Winter is méér

Waterverf in my Moleskine 200gsm Folio Natuur-sketsboek

Waterverf in my Moleskine 200gsm Folio Natuur-sketsboek

Twee Bloekombome op ons plot alreeds in die greep van winter. Alhoewel die bome nog vol blare is, is baie van die laer takke nog steeds kaal gestroop deur verlede winter se vuurbrande. Partymaal kom daar nuwe takkies met blare, maar hierdie twee was nie so gelukkig nie.

Winter is nie net grys wolke

en kaal boomtakke nie

dis nie net flenters koerantpapier

wat vastoffie teen ‘n geroeste draadheining nie

dis nie net duiwe wat pofveer knipknipoog

op die gevriesde waterbak in die voortuin

neerplof om dorstig te pik-pik aan klipharde ys nie

nee, winter is meer

dis boontjiesop en bredie

en die blou van jou oë

wat helderder as ooit

in hierdie vreeslike vaaltes

voor my kom staan

dis ‘n onverwagse glimlag

wat soos ‘n kniekombersie van sybokhaar

oor my yskoue hande en hart kom lê

en sagte trooswoorde

op hul heelmooiste manier

vir my sê

o ja, winter is méér

Elizabeth Kendall © (met toestemming)

Vulpenwoorde

In regte vulpenwoorde
op vlaktes wit papier
lê ek gedagtes neer: vertel van nou en hier
soos pienk papaja in my mond,
rol ek die woorde om en om,
adres eers in die regterhoek
vir ingeval jy my dalk elders
op ver of vreemde plekke soek
my hand strelend oor die wit
vroegoggend het ek wéér vir ons gebid
en toe dié wit brief,
seëlgeplak en oerbekend,
so duifsag in jou palm lê,
het jy alreeds geweet
wat ek so bittergraag vir jou wou sê?
want met die oopskeur saam
ruik jy mos my naam
en ou vreugdes tuimel
nogmaals oor jou binnemens
hoe soet proe tog
dié blywees van ons mooiste wens!
– Pragtige woorde uit die pen van Elizabeth Kendall© op een van my waterverfskilderye
::