‘n Bottergat in my Moeraseik

Bottergat

’n Bottergat (Blackeyed Bulbul – Pycnonotus barbatus) in my Moeraseik (Quercus palustris) – hierdie oulike tuinvoëls word gevind vanaf Arabië tot in die Kaap, Suid Afrika, en hulle is deel van my tuin soos my plante self – sonder hulle gereelde geselsery sal dit maar stil wees hier rond. Hulle is ook een van die heel eerstes wat my vroeg-oggend uit die bed jaag en aankondig dat ’n nuwe dag begin het.

Bottergat2

En die dag as ‘n klomp van hulle almal skree en kwetter kan jy verseker weet daar is iets in die tuin wat nie hulle goedkeuring wegdra nie, soos dalk ‘n slang. Menigmaal is ek gewaarsku dat daar ‘n Rinkhals is of sommer net Mollie, ‘n Molslang wat gereeld my tuin besoek. Hulle het ook nie veel van my skilpad, Torti, gehou nie en het gereeld op ‘n tak bokant haar plaas geneem en hulle onvergenoegdheid uitgespreek deur heen en weer te spring, van tak tot tak, om almal te laat weet alles is nie wel nie. Hulle hou ook niks van die Mynah’s nie, en sal almal ook waarsku dat hierdie kwaadwillige kerjakkers ook nou in die tuin is.

BullBull+in+PinOak.02

‘n Nuuskierige Bottergat wat my dophou om te sien wat ek op die voertafels sit.

Die paartjie in my tuin het al ‘n paar seisoene kleintjies in my tuin groot gemaak en die jonges bly langer by die ouers as bv. Jan Fiskaal se kinders, so soms is daar sommer 6 of 10 Bottergatjies in my tuin, almal besig om te bad of te raas of om die voertafels te besoek.

My eie stukkie paradys

.

Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is…
Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
 Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie ‘n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis ‘n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. ‘n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.
Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek…
.
 .
::

Wanneer laas?

GardenPotWanneerLaas
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie. ……….. Hoekom nie?
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
01-girlporch1
Hoekom dit nie vandag doen nie?
::

Au, sorry oumies!

Vanoggend sit ek voor my lessenaar besig om ‘n paar verjaarsdagkaartjies te ontwerp en ek dink, “Maree, jy word oud!” Dit na aanleiding van die feit dat ek myself verlede week half disnis in die tuin geval het en amper my stuitjie gebreek het.

Oud word is nie ‘n gedagte wat ek OOIT koester nie. Dis nie iets waaroor ek ooit dink nie. Seker omdat ek op amper-sewentig min skete het en omtrent nooit siek word nie, kannie onthou wanneer laas ek ‘n verkoue gehad het nie. En ek voel nog dieselfde as wat ek op dertig of veertig of vyftig gevoel het.

Behalwe vir die feit dat ek nie meer so rats is as wat ek eens op ‘n tyd was nie. Kannie meer die boom klim om die uil-nesbokse op te sit nie, kannie meer so fluks ‘n hoender jaag en vang nie en kan ook nie meer oor die lae muurtjie agter die huis spring as ek ‘n kuiken in nood hoor nie.

Die stuitjie-storie het gebeur omdat ek tussen ‘n klomp blomme in die tuin gestaan het waar ek en Chrissie besig was om ‘n paar plantjies te plant. Toe ek versigtig, sodat ek die blommetjies nie vertrap nie, agteruit tree om uit die blomme te kom, toe hak my voet agter ‘n klip vas en slaat ek soos ‘n os neer, bo-op ‘n hoop klippe, reg op my stuitjie.

Die vernedering was erger as die pyn! En die uitdrukking van verskrikking op Chrissie, my tuinhulp, se gesig het my vinnig laat opspring om haar te paai en te verseker dat ek OK is. Sy konnie genoeg “Au, sorry oumies, sorry oumies” sê nie en ek moes haar omtrent ‘n glas water gee vir die skok. Weet nie wie het groter geskrik nie, ek of sy!

Ek het die huis binne gestrompel en onmiddellik my Arnica-olie gesoek en aangesmeer maar ek het geweet die groot pyn gaan daardie aand kom. En dit het. Kon nie sit nie, kon nie op my rug lê nie, kon skaars beweeg. Maar na ‘n lekker warm bad het ek uiteindelik aan die slaap geraak en gehoop dat dit die volgende dag beter sal wees.

Dit het ‘n paar dae geneem en ek is nou amper volkome herstel, maar met ‘n nuwe besef van hoe verganklik die lewe is. Mens hoor so baie van “ou” mense wat val en ‘n heup of iets breek. Ek kan nog steeds nie glo dat ek so gelukkig was as om amper skotvry daarvan af te kom sonder enige nagevolge nie.

En een ding is seker, iets wat jy NIE van my gaan hoor is dat ek uit ‘n boom geval het nie!

.