Kaalvoet in die reën

VierDieLewe

Na nog ‘n bietjie heerlike reën, is dit vandag ‘n pragtige blou, koel somersdag en my gedagtes gaan terug na my jong dae in die laat 1950’s toe ons as kinders na elke reënbui buite in die waterpoele gaan speel het, kaalvoet en sonder sorge. Uitbundig gelag en mekaar met die water bespat en dit het nie saak gemaak dat ons vol modder geword het of dat ons klere besmeer was nie (daar was mos ordentlike “Surf” in daardie dae) – en in daardie dae is ons gedurig aangemoedig om buite te gaan speel.

En eintlik het ons nie ‘n ander keuse gehad nie – geen TV, geen rekenaars en geen selfone of X-box nie, ons moes ons self vermaak. Hop-skotch, kennetjie, leap frog, draadkarretjies wat ons self gemaak het en rond gestoot het op “dorpstrate” wat ons in die sand gemaak het, vlieërs gevlieg, bome geklim en gespeel ons is Tarzan, veldblommetjies bymekaar gemaak om huistoe te vat vir Ma is maar ‘n paar van die goed waarmee ons onsself besig gehou het.

En dis hoe ek vroeg vanoggend gevoel het, lus om kaalvoet in die poele water te plas. Of ‘n vlieër in die sterk briesie te vlieg. Ek het my pantoffels in die huis gelos en kaalvoet oor die gras geloop na die reënmeter om te sien hoeveel ons gehad het. Gisteraand se stormagtige 28mm reën het die aarde goed gedoen, en my siel ook. Dis sommer asof al die spinnerakke weg gewas is tesame met die verskriklike hitte wat ons die afgelope weke ondervind het. Die dor aarde verdor sommer jou menswees ook, maak dat jy lus is vir niks. Ek kon aan niks kom nie en was net so verlep soos my Krismisrose. Maar nou staan hulle almal weer regop, verfris na daai hemelse water en

Ek wil dans
kaalvoet in die reën.
wil die druppels tel
een vir een.
Die reuk van grond nat,
water wat teen die ruite spat.
Die weer se gedonder,
God se wonder.
Dan raak dit binne stil,
en laat die prag
die leemte vul.
Weg al die kommer
en seer
dan breek die strale deur.
Aangehuppel
oor die laaste druppel.
Dit lag binne my
skoongewas en vry!

Advertisements

‘n Bottergat in my Moeraseik

Bottergat

’n Bottergat (Blackeyed Bulbul – Pycnonotus barbatus) in my Moeraseik (Quercus palustris) – hierdie oulike tuinvoëls word gevind vanaf Arabië tot in die Kaap, Suid Afrika, en hulle is deel van my tuin soos my plante self – sonder hulle gereelde geselsery sal dit maar stil wees hier rond. Hulle is ook een van die heel eerstes wat my vroeg-oggend uit die bed jaag en aankondig dat ’n nuwe dag begin het.

Bottergat2

En die dag as ‘n klomp van hulle almal skree en kwetter kan jy verseker weet daar is iets in die tuin wat nie hulle goedkeuring wegdra nie, soos dalk ‘n slang. Menigmaal is ek gewaarsku dat daar ‘n Rinkhals is of sommer net Mollie, ‘n Molslang wat gereeld my tuin besoek. Hulle het ook nie veel van my skilpad, Torti, gehou nie en het gereeld op ‘n tak bokant haar plaas geneem en hulle onvergenoegdheid uitgespreek deur heen en weer te spring, van tak tot tak, om almal te laat weet alles is nie wel nie. Hulle hou ook niks van die Mynah’s nie, en sal almal ook waarsku dat hierdie kwaadwillige kerjakkers ook nou in die tuin is.

BullBull+in+PinOak.02

‘n Nuuskierige Bottergat wat my dophou om te sien wat ek op die voertafels sit.

Die paartjie in my tuin het al ‘n paar seisoene kleintjies in my tuin groot gemaak en die jonges bly langer by die ouers as bv. Jan Fiskaal se kinders, so soms is daar sommer 6 of 10 Bottergatjies in my tuin, almal besig om te bad of te raas of om die voertafels te besoek.