Luister na die lied van die natuur

‘n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale…
Om ‘n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome.
::
Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
 
Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
.
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
 
Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
.
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
 .
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido)
::
Advertisements

Eenvoudige oomblikke

Begin jou week met eenvoudige oomlikke…

Gewoonlik kan jy die groot, onvergeetlike oomblikke in jou lewe op een hand tel, maar dis die alledaagse, klein eenvoudige dingetjies in ons dag wat die lewe so lekker maak. Soos om ‘n heerlike Cappuccino by die Wimpy te sit en drink, sommer so in die middel van die oggend.
Hulle motto is mos “Enjoy every moment” en om sommer net so te sit en gesels is presies dit. Om elke eenvoudige oomblik te geniet.
Op pad na die Wimpy…
Ek sê dankie vir alledaagse dinge…
::

Om vriende te kweek

Is jy lief vir tuinmaak? Is jy lief vir jou vriende? Die twee is baie dieselfde. Albei is kosbaar vir ons, albei vat toewyding, tyd, liefde, aandag en baie werk.

Sonder om tyd in jou tuin te spandeer sal jy dit eerstens nie kan geniet nie en tweedens sal jy dit nie leer ken nie. Elke plantjie vertel ‘n storie, of dit gelukkig is, of dit genoeg water en kos kry, of dit genoeg aandag en liefde kry. Hoeveel werk jy in jou tuin insit is sigbaar in hoe goed jou plante blom, hoe sterk hulle is om dit deur die winter te maak en hoe hulle groei, seisoen na seisoen.

Dieselfde is waar omtrent ons vriende. As ons nie aan ons verhoudings werk nie, nie genoeg tyd saam met ons vriende deurbring nie, sal die vriendskap daaronder ly. Liefde en aandag in ons verhoudings met ons vriende is belangrik, dit hou die vriendskap sterk. Vriende help ons om te groei, om onsself beter te leer ken en ondersteun ons in moeilike tye, die “winter” van die lewe.

So, nes met die blomme in jou tuin, kies jou vriende reg! Hul koester jou drome en werk sag met jou hart.

.

Wanneer laas?

GardenPotWanneerLaas
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie. ……….. Hoekom nie?
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
01-girlporch1
Hoekom dit nie vandag doen nie?
::

Hoop

Ons almal het al die gesegde gehoor, “Solank daar lewe is, is daar hoop.” Maar as jy dit omdraai, “Solank daar hoop is, is daar lewe”, klink dit vir my soveel meer belowend… In die aangesig van enige krisis, of dit nou siekte is, of familie- of geldelike probleme, om to HOOP dat dinge gaan verbeter lei na ‘n vaste geloof dat dit wel gaan verander en verbeter. En dit plaas ons ook in die posisie van wat NOU aangaan in ons lewens – NOU is al wat is, NOU is die enigste wonderlike werklikheid wat ons almal het om die wonder van lewe op aarde te geniet, met mekaar te deel, en daardie woordjie “hoop” maak alles moontlik…

maar môre is ‘n nuwe
dag,
(môre mag mos mooi
wees)
môre sing die
bloukuifloerie
in die voortuin by die
hek
en sit tinktinkie dalk
weer op sy uitgesoekte
plek

ja môre bring weer
nuwe hoop
waar sy haar paadjie
trippeltreë mag loop
– Uittreksel uit Elizabeth Kendall se “Hoop”

.

Rooiborsduifies

Een van my gunsteling tuinvoëls – die Rooiborsduifie. Hulle roep is ‘n sagte, rustige frase note wat laag begin, hoër styg en dan weer afwaarts borrel.

Die rooiborsduifie (Streptopelia senegalensis ) is een van drie gryserige duiwe wat almal redelik algemeen in Gauteng-tuine voorkom.

Die maklikste manier om dit te onderskei van die ander twee – die gewone tortelduif en die grootringduif – is dat die rooiborsduifie nie ‘n swart ringetjie om sy nek het nie. Die rooiborsduifie is ook die kleinste van die drie en die een met die sterkste pienk skynsel.

Daar is verskeie ander name wat mense vir rooiborsduifies gebruik, soos lemoenduifies en lagduifies (na aanleiding van die Engelse laughing dove ). Die amptelike Afrikaanse naam verwys na die fyn pienkrooi veertjies en kolletjies op die bors wat duidelik sigbaar is. ‘n Mens moenie by dié naam dink aan ‘n tamatierooi nie.

Rooiborsduifies is saadvreters en ‘n mens hoef net ‘n handvol saadjies of selfs broodkrummels iewers op die grond te strooi om hulle en ander saadvreters na jou tuin te lok. Baie saadvoerders wat druk deur kleiner voëltjies besoek sal word, werk nie goed vir groter voëls soos die rooiborsduifie nie. Hulle wei liefs op die grond.