Die mooiste sprokie is die een in jou drome

 

diemooistesprokie

Ink skets en waterverf – Maree Clarkson

 

Drome het ook asem en trane en marteling, en die aanraking van blydskap; hulle lê swaar op ons gedagtes later, maar maak ons arbeid ook wel ligter; Hulle verdeel ons aandag, word deel van ons, soos die tyd self, en doen hul voor as boodskappers van die ewigheid.
— Vertaal vanaf Lord Byron

My plekkie, my omgewing

Ek woon in Tarlton, Gauteng, aan die grens van die Noord-Wes Provinsie in Suid Afrika, op ‘n 8,5ha kleinhoewe, waar die natuur meeste van my sketse inspireer.

HIER IS MY PLEKKIE

Uitsig vanaf die tuin na die voordeur deur die Halleria lucida (Boom Fushcia)

Voordeur vanaf onder die Karees
DIE OMGEWING TARLTON is geleë half-pad tussen Krugersdorp en Magaliesburg, grensende aan die ‘Cradle of Humankind’ (Wieg van die Mensdom) wat ‘n ‘World Heritage Site’ verklaar is deur UNESCO in 1999, en is 50km Noord-Wes geleë vanaf Johannesburg in Suid-Afrika se Gauteng-provinsie.

Die gebied beslaan 474 vierkante-myl en bevat ‘n komplekse reeks grotte, insluitende Sterkfontein-grotte, waar die 2.3-miljoen jaar oue fossiel Australopithecus africanus (“Mrs. Ples”) gevind was in 1947 deur Dr. Robert Broom en John Robinson.

 

Die ondergrondse meer diep in die Sterkfontein-grotte, en wat die oorsprong van die Magaliesrivier is wat 15km verder by ‘n oog in Maloney’s Eye (sowat 5km vanaf Magaliesburg) uit die grond uitborrel.

Om en by 5km van ons af, is Maropeng, met 2500m² se uitstallings van fossiele en klip-gereedskap miljoene jaar oud, met ‘n ondergrondse bootrit deur gange van soliede ys en voorstellings van vulkane en Antarktieka, restaurant, koffie-winkel en curio winkel. Maropeng bedoel “om terug te keer na die plek van oorsprong” in Setswana.

Maropeng van agter gesien

Maropeng ingang

 

Bootrit deur ondergrondse ys-tonnels

 

Een van die gange in Maropeng

 

Nog een van die gange – Evolusie van die Mens
Omtrent 10km vanaf ons geleë is die 1400-hektaar Krugersdorp Wildtuin, met Wit Renosters, Buffels, Kameelperde, Seekoeie, Swart Wildebeest, Zebras en vele bokspesies, insluitende die raar Sable Antelope, Tsessebe, Elande, Waterbokke, Koedoes, Oryx, Rooi Hartebeeste, Blesbokke, Springbokke en Impala, met ‘n spesiale 100ha afgekampte Leeu area in die middel van die wildtuin (waar die eienaar, Dirk Brink, so twee jaar gelede deur ‘n trop leeus aangeval en verskeur is). Die wildtuin spog met die uitstekende Ngonyama Restaurant en offer ook ware Afrika verblyf.

Ingang na die Krugersdorp Wildtuin

 

‘n Dam in die wildtuin waar ek al menigmaal skilpaaie of ander diertjies en voëls vrylaat.

 


Skuins oorkant ons plot is die welbekende Tarlton International Raceway, waar ‘dragsters’ die kwart-myl rekords verbreek en dorstiglik brandstof en buitebande verbrand!

Ons is ook omring deur vele volstruis-plase, vee-, groente- en blomplase, verskeie besighede, B & B’s en bloekombome, wat aangeplant is vanuit Australia vir die gebruik van houtpale en -stutte in die vele myne in die omgewing.

Rustenburg is ‘n uur se bestuur vanaf ons, Hartebeespoort Dam is so 40-minute ver en die ‘Magalies Meander’ strek vanaf Tarlton, deur Magaliesburg en deur Hekpoort, Vlakdrif, Maanhaarrand, Skeerpoort en tot by Hartebeeshoek, naby Broederstroom.

‘n Pragtige gedeelte van Gauteng om woonagtig te wees!

Lied van die natuur

‘n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale…
Om ‘n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome.
::
Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
 
Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
 
Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido)
::

Om vriende te kweek

Is jy lief vir tuinmaak? Is jy lief vir jou vriende? Die twee is baie dieselfde. Albei is kosbaar vir ons, albei vat toewyding, tyd, liefde, aandag en baie werk.

Sonder om tyd in jou tuin te spandeer sal jy dit eerstens nie kan geniet nie en tweedens sal jy dit nie leer ken nie. Elke plantjie vertel ‘n storie, of dit gelukkig is, of dit genoeg water en kos kry, of dit genoeg aandag en liefde kry. Hoeveel werk jy in jou tuin insit is sigbaar in hoe goed jou plante blom, hoe sterk hulle is om dit deur die winter te maak en hoe hulle groei, seisoen na seisoen.

Dieselfde is waar omtrent ons vriende. As ons nie aan ons verhoudings werk nie, nie genoeg tyd saam met ons vriende deurbring nie, sal die vriendskap daaronder ly. Liefde en aandag in ons verhoudings met ons vriende is belangrik, dit hou die vriendskap sterk. Vriende help ons om te groei, om onsself beter te leer ken en ondersteun ons in moeilike tye, die “winter” van die lewe.

So, nes met die blomme in jou tuin, kies jou vriende reg! Hul koester jou drome en werk sag met jou hart.

.

Wanneer laas?

GardenPotWanneerLaas
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie. ……….. Hoekom nie?
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
01-girlporch1
Hoekom dit nie vandag doen nie?
::

In die Hoëveld

Die heerlikste plek in ons land om te bly – Gauteng. Of, in die ou taal, die Hoëveld. Ons het die mees matigste (en normale!) klimaat in die hele land, nie te koud in die winter nie en ook nie te warm in die somer nie (met uitsondering van die warm temperature wat ons ‘n paar weke gelede beleef het!)
Ons word amper nooit geteister deur ontstuimige winde soos in die Kaap nie, ons kry min verwoestende oorstromings of verspoelings soos in Mpumulanga, dit sneeu amper nooit soos in Lesotho of die Noord-Kaap nie en, die beste van alles, ons kry reën in die somer! Ek kan my niks erger voorstel as ‘n nat, koue winter nie!
::
In die Hoëveld waar dit oop is en die hemel wyd daar bo
waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
waar ’n mens nog vry kan asemhaal,
staan my huisie wat ek moes verlaat, vir geld!
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom
sawens as ek bees of skaap toe ry.
Op die Hoëveld waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien —
die ylblou bring ’n knop dan in jou keel —
staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
waar die bokkies op die leigrafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
en soek weer in die maanlig al die mooiste plekkies ui
waar ek klei-osse gemaak het as ’n kind.
— Woorde: Toon van den Heever
::

‘n Tyd om aan te vul

‘n Week sonder kreatiwiteit – nee, langer as ‘n week… en die snaakse ding is dat ek eintlik verbaas is dat ek nie skuldig voel daaroor nie. Met ‘kreatiwiteit’ bedoel ek skets en skilder. Gewoonlik voel ek ongemaklik, al asof iets kortkom, as ek vir ‘n paar dae nie geskilder of geteken het nie. Hierdie keer is dit anders – ‘n stilte het sommer net neer gedaal…
Ek het vir die afgelope twee jaar elke dag van my lewe iets geskilder, al was dit net ‘n klein sketsie in een van my skets-joernale. Dit was soos tande borsel en iets wat ek verskriklik geniet. Maar oor die afgelope paar weke het my gedagtes, en hande, in ander rigtings begin beweeg – bietjie aandag gegee aan my huis se dekor; die tuin, wat ‘n hele winter verwaarloos was, begin opgeknap; klein instandhoudingstakies wat lank verwaarloos was, weer aangepak en van my te-doen-lysie afgeskraap.
Ek maak ook gebruik van hierdie ‘stil’ gevoel wat oor my gedaal het om weer my yoga te beoefen, ook iets wat in die slag gebly het die afgelope twee jaar. ‘n Jaar of twee terug het ek gereeld elke oggend gemediteer en ek het onlangs besef hoe baie ek dit mis. So, vyf-uur in die oggend is my spesiale stil tyd, wanneer ek siel en liggaam bymekaar skraap en ontslae raak van enige lastige pla-gevoelens.
‘n Ander voorliefde van myne was om te skryf. Briewe te skryf. In my Joernale te skryf. Deurdat ek so baie tyd voor die rekenaar en op die internet deurbring, het hierdie genotjie my begin ontglip. Mens praat met al jou vriende en familie op FaceBook en op Skype, gesels met almal in hul blogs en stuur boodskappe met jou Blackberry. Oor die afgelope paar weke het ek weer begin om briewe te skryf, meesal aan my klein kinders, en hulle dink seker hul ouma is van haar sinne beroof! Maar ek kannie vir jou sê watse heerlike genot dit is om weer ‘n vulpen vas te hou en toe voel hoe dit oor die papier gly nie!
Maar eintlik is al hierdie dinge ook maar ‘n tipe van kreatiwiteit – enige iets wat die siel streel is gaaf met my!
::