Wanneer laas?

GardenPotWanneerLaas
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie. ……….. Hoekom nie?
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
01-girlporch1
Hoekom dit nie vandag doen nie?
::

Vulpenwoorde

In regte vulpenwoorde
op vlaktes wit papier
lê ek gedagtes neer: vertel van nou en hier
soos pienk papaja in my mond,
rol ek die woorde om en om,
adres eers in die regterhoek
vir ingeval jy my dalk elders
op ver of vreemde plekke soek
my hand strelend oor die wit
vroegoggend het ek wéér vir ons gebid
en toe dié wit brief,
seëlgeplak en oerbekend,
so duifsag in jou palm lê,
het jy alreeds geweet
wat ek so bittergraag vir jou wou sê?
want met die oopskeur saam
ruik jy mos my naam
en ou vreugdes tuimel
nogmaals oor jou binnemens
hoe soet proe tog
dié blywees van ons mooiste wens!
– Pragtige woorde uit die pen van Elizabeth Kendall© op een van my waterverfskilderye
::

Is dit tyd vir aftree?

Aftree. Ek is nou op daai ouderdom en dis ‘n woord wat ek baie hoor deesdae. My dogter vra, “Wanneer gaan julle aftree, Ma?” Ander afgetrede vriende van ons ouderdom (ek en my man grens albei aan 70) vra ook die vraag, “Wanneer gaan julle aftree?” Nou het ek begin dink, is dit dalk tyd vir aftree?

Maar aftree van wat? Van werk? Vir die afgelope twintig jaar of so bedryf ek en my man ons trekker-besigheid hier op ons plot en ek kan waarlik sê dat daar min dae was wat soos “werk” gevoel het. Ons deure is oop van 8vm tot 5nm in die week, geen naweke nie maar as daar wel navrae vir trekkeronderdele is op ‘n Saterdag, skroom ons nie om iemand te bedien as ons wel by die huis is nie.

Ons tyd is ons eie. Ek hoef nie my inkopies op Saterdae te doen omdat ek “werk” nie. Ek doen inkopies gedurende die week. As dit ons pas en as die werklading dit toelaat, dan sluit ons die deure en gaan kuier vir my dogter by die kus vir ‘n paar dae. Ons gaan eet gereeld ontbyt saam by die Wimpy in Magaliesburg wanneer dit ons aanstaan en tussen-deur sien ek om na my hoenders, werk in die tuin, skets en skilder gereeld en beoefen ‘n paar ander kreatiewe dingetjies wanneer ek lus is.

Ek stap gereeld vroeg-oggend of laat-middag op die plot rond, kamera of sketsboek in die hand, op soek na iets moois om te teken of af te neem. Ek laai en verkoop my kuns op verskeie webwerwe op die internet en ‘n hele paar blogs hou my besig. My man se stokperdjie is om aan ou, klassieke karre te peuter en hy neem deel aan byeenkomste en uitstappies oor die Boere-oorlog geskiedenis van ons land, wat al sy spaar tyd, so tussen werk deur, in beslag neem.

Nou wonder ek net – aftree van wat? Wat is aftrede eintlik? Om op te hou werk?

Toe lees ek êrens ‘n definisie van aftrede : “aftrede is ’n aksie waartydens ’n werker ophou om sy/haar hoofberoep te verrig, terwyl hy/sy steeds ’n inkomste ontvang in die vorm van pensioen. Omdat baie werkers voortgaan met arbeid op ander terreine, kan aftrede ook beskryf word as ’n radikale verandering en ’n voortgaande proses.”

Mense sien met verwagting uit na die dag wanneer hulle finaal van werksdruk, tydsdruk en ’n magdom verantwoordelikhede verlos kan wees om hulle eie ding rustig en ontspanne te kan doen. Arbeid het die mens se lewensiklus geword, met aftrede as die finale fase in die siklus. Eers in die twintigste eeu het mense lank genoeg bly leef om te kan aftree. In die Steentydperk was die gemiddelde lewensverwagting ongeveer 18 jaar, in die Romeinse tyd 22 jaar, in die Middeleeue 25 jaar en teen 1900 was dit 44 jaar. Vandag kan ’n man verwag om 76 jaar en sy vrou 80 jaar of ouer te word.

So aangesien dit blyk dat daar nog so om-en-by twintig of dertig jaar vir ons voorlê, met of sonder om te werk, is dit dalk nou meer ‘n geval van aftree van ou gewoontes; aftree van die roetine van 7vm wakker word, half-agt te bad en 8-uur die deure vir besigheid oop te maak, aftree van die roetine om 10uur ontbyt te gaan eet, aftree van die roetine van dinge oor en oor dieselfde te doen.

Dalk is dit nou tyd om partymaal eers 9-uur op te staan; dalk is dit nou tyd om vir ‘n verandering in ‘n vreemde land in ‘n vreemde bed wakker te word, dalk is dit nou tyd om Mount Everest te gaan klim. Dalk is dit nou tyd “to be what you might have been.”

Volsirkel : George Eliot het gesê, “It’s never too late to be what you might have been”. Maar ek dink dit is klaar te laat – ek voel ek is al klaar ‘what I might have been’.

So ek dink ons lewe is ‘n voortgaande proses. Ons hoop om hier dood te gaan, afgetree of te nie – Dave in sy werkswinkel en ek voor my esel of die rekenaar, besig om een laaste blog-pos of skilderstuk te doen (die onvoltooide meesterstuk.)

.

Afrikaans – Ons pragtige taal!

Ons pragtige taal verewig in digvorm, ‘n herhinnering van ons oorsprong, van vergane dae en skoolbanke waar ons nie juis geϊnteresseerd was in watter digters wat gesê het nie… en soos jy aanstap in die lewe, kom ‘n hunkering na wie-weet-wat, ‘n erkenning van die nodigheid om in jou eie taal gehoor te word of te kan lees.

‘n Engelssprekende vriendin vra my nou die dag hoe ek dit regkry om my ”g’s” so grof en maklik uit te spreek – sy kan net nie haar tong om ”Vereeniging” of ”gratis” kry nie – iets waaroor ek nog nooit nagedink het nie en dan besef ‘n mens hoe jy jou moedertaal as vanselfsprekend aanvaar. Dit is so ingewortel in jou menswees dat jy maar net aanneem dat enigiemand anders die woorde ook dieselfde sal kan uitspreek. En enige taal of uitspraak kan tog aangeleer word deur genoeg oefening en repetisie.

En hoe máklik is dit tog net nie om verstrengel te raak in ander tale en in te meng met jou eie nie – bewys hiervan is die alledaagse Afrikaans wat ons meer en meer hoor – dis ‘OK’ om nie te ‘worry’ nie en ek wil net gou ‘n bietjie ‘makeup’ aansit voor ek uitgaan. Hoe meer ‘n mens dit hoor, hoe gemakliker word jy daarmee. Ek weet, ek is self een van hulle, getroud met ‘n ”pommie” en spandeer driekwart van my lewe deur Engels te praat – soms wil die Afrikaanse gedagte net nie kop uitsteek nie! En dan is dit gou woordeboek gryp …

Maar ek dink dat dit elke Afrikaner (of énige nasie vir die argument) se plig is om sy taal so ver as moontlik suiwer te hou. Sleng het seker maar sy plek, maar ek ken ‘n paar Afrikaners wat Afrikaans so suiwer as wat kan kom praat, en as hulle dit kan doen, dan hoekom nie almal nie? En ons hoef ook dan nie stemmig of outyds te klink nie en as almal dieselfde taal sou praat, sou niemand stemmig of ouderwets klink nie!

Riaan Cruywagen het in Maart 2007 by die bekendstelling van Anton Prinsloo se publikasie ”Sleng” gesê, “Sleng kon nie op ‘n meer geleë tydstip die lig gesien het nie. Of Anton maar net weens sy oplettende geaardheid die leemte in die mark raakgesien het, weet ek nie. Dalk is die weg gebaan toe die Taalkommissie in die jongste uitgawe van die AWS in 2002 die eerste keer aan Omgangsafrikaans erkenning verleen het, deur in ‘n afsonderlike lys sowat 500 woorde op te neem wat gebruik word in “die Afrikaans wat moedertaalsprekers in gemoedelike omgang met mekaar praat”. Hoe dit ook al sy – vir mense wat erns maak met hulle Afrikaanse taalgebruik, gaan Sleng ‘n onontbeerlike plek in die boekrak inneem.

Engels is sonder uitsondering die wenner wanneer Afrikaans (of, wat dit betref, enige ander taal) daarmee deurspek, ontsier en verarm word. Ek hoor baie selde dat Engelssprekendes – hetsy in gemoedelike omgang met mekaar óf in formele kommunikasie soos nuusuitsendings of koerantberigte – vreemde invloede in hulle taalgebruik duld. Indien daar by hulle sprake is van ‘n soort taal-meerderwaardigheid, vra ek myself af waarom óns dan bereid is om ‘n minderwaardige of ondergeskikte plek in te neem? Lê dit aan ons onderwysstelsel, word daar tuis nie meer aan ons kinders die beste voorbeeld gestel nie, of is die media daarvoor aanspreeklik? Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is ontsettend dankbaar dat Afrikaans van sy beklemmende borsrok bevry is.”

Ek het ook op hierdie aanhaling by http://www.oulitnet.co.za afgekom :

“An English-only, or even an English-mainly, policy necessarily condemns most people, and thus the country as a whole, to a permanent state of mediocrity, since people are unable to be spontaneous, creative and self-confident if they cannot use their first language”
– Dr Neville Alexander
— ‘Where English can Serve but not Empower.’

Nog iets ouliks en handigs wat jy by http://www.oulitnet.co.za kan aflaai (ja, dis reg, aflaai!) is die A – Z van Afrikaanse rekenaar- en internetterme – maak die lewe nou baie maklik en hoef ‘n mens nie meer skuldig te voel as jy ontsper, enkodeer, versper, eksporteer of jou beller gebruik nie!

Nou ja, daar het jy dit – ”om te sleng of nie te sleng …”

.