



… en alles draai
presies uit
soos wat ek dit
nie voorgestel het nie.
Die mooiste dag omvou as jy tot die besef kom, vandag het ek ‘n kans om reg te maak, lief te hê en dankie te sê.
::
Wat beteken OORVLOED, of welvaart, vir jou? Is dit miljoene in die bank? Is dit gemoedsrus? Is dit ‘n gelukkige familielewe? Beteken dit gesondheid vir jou of beteken dit ‘n werk waaroor jy passievol is? Of is dit al hierdie dinge saam?
Net om te léwe, om deel te wees van hierdie fenomonale Heelal, om tyd deur te bring hier op Moeder Aarde, dui al klaar op oorvloed. Dan kan jy al die bogenoemde dinge bylas, en watter wonderlike ondervinding is dit nie!
::
Elke oggend betree die trotse hoenderhaan die hoenderhok.
Saggies soen hy nege van tien henne. Maar van die tiende hoenderhen pluk hy ‘n veer. So gaan dit aan van dag tot dag…. die nege gesoende hoenders is bly, en die tiende hoender dra die pyn geduldig.
Maar op die 14de dag het die hoenderhen nou genoeg van hierdie prosedure gehad en sy skree vir die haan: “Jy kom elke oggend breëbors hier ingestap en soen al die nege ander henne. Maar by my pluk jy ‘n veer! Wat’s jou plan?!“
Die haan fluister in haar oor:
“Vir jou wil ek kaalgat sien, Skattie!”
Ek het nog nie ‘n nuwe tuin nie…
Dit is nou 18 maande sedert ons uit Gauteng Natal toe verhuis het waar ons tydelik by my dogter in Ballito woon (totdat ons kan besluit of ons hier wil posvat of nie) en ek het tot dusver nog nie veel met my hande in die aarde gevroetel nie, behalwe om ‘n paar steggies vetplante te leen, steel en persent te kry nie. Potjies kan ek darem saam met my vat wanneer ons trek (hopelik binnekort!), aangesien ons tog besluit het om ons hier op hierdie pragtige Noordkus te vestig.
En alles is vreemd vir my – die voëls, die plante, die blomme en die bome-sonder-name. Tog herken ek baie bekendes wat ek al telkemale in my Gauteng-tuin probeer groei het, sonder sukses, soos die Koorsboom (Fever tree), Strelitzia nicolai en Strelitzia reginae en die Natal fig (Ficus natalensis). Van gras is daar geen sprake hier nie – die grasperke is kol-kol kalerig en glad nie weelderig soos Gauteng se kikuyu gras nie, wat hier heeltemal verbode is, want omtrent alles wat hier groei of geplant word is inheems.
Nou wat doen ek dan heeldag, hoor ek jou vra? Soggens word ek gegroet deur ‘n pragtige uitsig oor die see. Na ek gebad en aangetrek het, is dit tyd vir ontbyt of middag-ete by een van die talle wonderlike restaurante hier in Ballito, ‘n paar nodige inkopies by Woollies of die Spar en dan terug huis toe.
Op ‘n hittige somers-dag (en in die winter!) is dit heerlik om in of langs die swembad te ontspan en dan bietjie later binnenshuis by die lugverfrisser met ‘n spannende boek. Ek het by die biblioteek aangesluit en is vinnig besig om hulle Afrikaanse seksie heeltemal deur te lees!
En so twee of drie maal ‘n week stap ek en my man op die strand of die promenade saam met ons hondjie Jacko
Maar tot my ontsteltenis moet ek bieg dat ek in 18 maande nog nie weer aan ‘n verfkwas geraak het nie, nog nie weer iets geskilder het nie… My muse het heeltemal die hasepad gekies en my alleen en verlate agter gelaat. Maar dis net nog nog iets waarmee ek hoop om binnekort weer op dreef te kom…
Ek is nie oud nie,
Ek is skaars.
Ek is die staande ovasie
Aan die einde van die toneelstuk.
Ek is die ure
Gekoppel soos kolletjies
In ‘n goeie sin
Ek is die volheid
Van bestaande.
Jy dink ek wag om te sterf …
Maar ek wag om gevind te word
Ek is ‘n skat.
Ek is ‘n kaart.
En hierdie plooie is
Afdrukke van my reis
Vra my
enigiets.
Presies 12 maande terug (op die 15de Desember 2017) het ons Gauteng verlaat – ALLES verkoop wat ons kon, alles weg gegee aan die wat wou hê, alles weggegooi wat oorgebly het, vaarwel gesê aan my tuin, my geliefde hoenders, my tuin voëltjies, die Bloekombome en die graslande van die Transvaal – en nou sit ons hier in Natal. ‘n Bekende (het baie hierheen gekom) tóg vreemde plek – die see is mos vir ‘n Gautenger net plek om te gaan vakansie hou. Almal droom van ‘n huisie by die see, en nou het dit realiteit geword!
.
Lui-lekker ontbyt of middagete by een van die vele restaurants met ‘n pragtige uitsig oor die see,
.
ligte aand-etes van volgraan brood met ‘n groen slaaitjie oor dit so warm is
.
en dae gevul met wonderlike sonskyn en ook reën, salige reën omtrent elke dag.
.
Ek sal nie jok nie – dis nie maklik om sommer net so, na 43 jaar in een plek, jou wortels op te ruk en te trek nie – ek mis my hoendertjies, ek mis my tuin en tuin voëls, ek mis bloekombome en ek mis GRAS! Aaah, daardie uitgestrekte savanna grasvlaktes van Gauteng! – maar hier by die kus is daar nou weer nuwe uitdagings. Ek ken min van die voëls, of slange, of plante groei, so nou is daar ‘n kans om weer iets nuuts te leer, nuwe avonture te onderneem, nuwe dinge om te ondersoek.
Dit kos net om nou na die lewe met nuwe oë te kyk, nuwe herinneringe te maak en nuwe vriendskappe te kweek. Ou vriendskappe is mos vir ewig, hulle sal nie weggaan nie, maar nuwe vriendskappe sal verseker dat mens alewig met nuwe oë na die lewe sal kyk.
Ek hoop jy is ook waar jy WIL wees! So geniet jou dag waar ookal jy mag wees! ♡♡♡ Maree
Die vraag is: “Wat op aarde keer jou om te doen wat jy graag wil doen?” Die antwoord is, “Luister wat jou hart vir jou sê.” Jy moet glo in jouself. Sê vir jouself jy kan enigiets doen en verruil jou opgee-gedagtes vir opbouende aangryp-gedagtes.
.
Ek sit nou hier en dink aan die verganklikheid van die lewe – en die ouderdom. Dis nog nooit juis iets waaraan ek aandag gegee het nie. Mens word ouer, jy kan minder doen, jou vel is meer verrimpeld (en nog meer!), en daar is ’n paar skete en pyne. Gelukkig is ek nog vol energie, het goeie gesondheid (was laas in die hospitaal met die geboorte van my dogter 47 jaar terug) en my brein is nog so skerp soos ’n naald. My geheue ook.
Waaroor dit nou eintlik gaan is die feit dat ek artritis ontwikkel het in my duime. Ek sukkel om ’n speld van die lessenaar af op te tel en het so nou en dan pyn, veral in die winter. En daar’s swelsel. En ’n knopperige been wat ek net bokant elke duim kan voel. Andersins is daar nie probleme met my hande (of duime nie), ek kan nog goed soos bottels en allerhande dinge perfek hanteer en optel (oopmaak is nie meer so maklik nie en aartappels skil is baie moeilik) en ek kan nog my verfkwas en potlood vashou. En ek kan nog (vinnig) tik op my rekenaar se sleutelbord. Dit verg min duim-verbruik.
Nou hier’s die ding – wat gebeur die dag as ek nie meer my verfkwas kan vashou nie? As ek nie meer kan teken of skilder nie? As ek nie meer in my Joernale kan skryf nie? Dis waaruit my lewe bestaan – skilder. En tuinmaak. En herinneringe neerskryf. En wat gebeur die dag as ek nie meer daai dinge kan doen nie? Dis mos dan nou tyd om vooruit te dink en te besluit wat ek gaan doen indien so iets gebeur.
Nou, my pa het altyd gesê, moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie. Maar my geaardheid neig bietjie na vooruit beplan, bietjie van ’n “control freak”, alles het ’n plek en alles moet reg wees. Daar’s altyd ’n plan B ingeval dinge bietjie verkeerd loop. En wat ek nodig het is ’n plan B.
Maar voor ons by Plan B uitkom, eerste van alles, ek glo in die doktrine van Louise Hay, dat al ons siektes en skete vanaf ons gedagte-patroon afkomstig is. En in haar boek “Heal Your Body with your Mind” is die oorsaak van artritis in ledemate as volg : “Arthritis in joints represents changes in direction in life and the ease of these movements.” Reg. Dit verstaan ek. Ons is nou op die ouderdom (ek is hierdie jaar 71) waar ons afgetree het en in die proses is om ons plot, waar ons al 42 jaar woonagtig is, te verkoop en kus toe te verhuis. Dis ’n groot verandering. Daar’s gedagtes van my tuin, al my diere, my hoenders, te veel goed in ’n groot 3-slaapkamer huis om saam te neem en wat van alles gaan word.
Die nuwe gedagte-patroon om aan te leer, volgens Louise, is, “I easily flow with change. My life is Divinely guided and I am always going in the best direction.” Lees weer, “Best direction”, nie “right direction” nie. My pa het ook altyd gesê, alles gebeur vir die beste. Mens kan nooit sê watter besluit is reg of verkeerd nie, dis net ’n besluit, maar wat jy met die besluit doen is wat belangrik is. En nou die dag het ek ook afgekom op hierdie pragtige gesegde : ♥ “I am not sad because it is over, I am smiling because it happened.”
.
Al my herinneringe is veilig, ek sal vir ewig dankbaar wees vir die lewe wat ek hier gehad het, die diere wat ek lief gehad het en wat vir my lief was, al die ondervindings en al die lief en leed. So, van hier af beweeg ek met gemak vorentoe in die beste rigting wat ek kan. En koebaai artritis.
Nou vir Plan B. Sonder artritis gaan ek nog verf en skilder en teken en skryf totdat ek ’n honderd jaar oud is. Ek gaan nog nuwe saadjies saai en plantjies in ’n stukkie grond plant, al is dit net in ’n potjie of twee. Ek gaan kaalvoet op die strand loop en skulpe optel, ek gaan saam met my dogter en kleinkinders rond kerjakker en nuwe dinge sien, nuwe dinge leer en nuwe dinge doen. En dit alles met ’n dankbare gevoel vir dit wat ek nog het wat perfek is.
Wanneer laas kon jy ‘n skoenlapper se pragtige kleure bewonder? Of ‘n by waar hy naarstigtelik besig is om stuifmeel bymekaar te maak? Lanklaas? Waarskynlik, want deesdae word alles mos bespuit met al wat gif is. Selfs heuningbye word bedreig.
Waarvan ons en ons nageslag gaan lewe as heuningbye en skoenlappers van die aarde af verdwyn, is ‘n ope vraag. Naas water en suurstof, is bye en skoenlappers onmisbaar vir oorlewing, want daar is niks wat die bestuiwingsfunksie so kan vervul nie, en niemand kan daardie funksie by hulle oorneem nie. Die goeie nuus is dat ons kan tuinmaak om skoenlappers en bye te lok. Omdat die huidige habitats en voedselbronne minder word, moet ons bestaande bye-vriendelike plante beskerm en in stand hou deur meer bye-vriendelike plante aan te plant.
Hoewel bloekombome indringers kan wees, is hulle baie belangrik as ‘n voedselbron vir ons inheemse bye. Die doel is om, deur goeie bestuur, bloekombome te behou as voedselbron vir ons bye. Grondeienaars moet die spesies en ligging van bloekombome op hul plase identifiseer. Dié sonder bloekombome kan dit oorweeg om sekere nie-genoteerde spesies (bv.E. ficifolia of E. gomphocephala) te plant waar hulle nie waterbronne bedreig of ‘n indringingsgevaar stel nie.
In ‘n eko-vriendelike tuin is daar nie plek vir insektedoders nie. Of dit nou ‘n kontakdoder of ‘n sistemiese middel is, los dit. Aan die begin sal dit dalk moeilik wees, want die natuurlike vyande sou lankal die wyk geneem het omdat daar nie kos is nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek insekdoders in my tuin gebruik het nie. Nou die oggend sit ek en luister na die voëlgeluide. Ek besef toe dis omdat ek nie meer gif spuit nie dat hier meer goggas is, en omdat hier meer goggas is, is hier meer voëltjies, want hier is genoeg kos om te oorleef en kleintjies groot te maak.
Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!
Maar dit gaan nie net oor die gebruik van gifstowwe nie. Ons kan heelwat doen om ons tuine meer aanloklik vir die veervolk te maak. Daar is heelwat plante wat veral skoenlappers kan terug lok tuin toe, soos die Koraalboom (Erythrina lystemon), die Notsung, ook genoem Fuschia, (Halleria lucida), en die Drolpeer (Dombeya rotundifolia). ‘n Goeie keuse vir tussen klippe of op ‘n rotstuin is die Crassula perfoliata. Ander plante is die Sonbekkiebos (Metarungia longistrobus), Fynblaarrooihout (Ochna serrulata), en die Wilde-pynappel (Eucomis Comosa, Eucomis autumnalis en die Eucomis humilis).
Al die vuurpyle (Kniphofia) variëteite, Makhaya bella, Freylinia tropica, Juncus effesus en selfs die Varkoor wat hou van skaduwee en baie water.
Geniet die skoenlappers wat terugkom en onthou — ‘n ruspe is net ‘n skoenlapper wat nog nie vlerke gekry het nie!
– Sommige van die inligting vanaf ‘Kormorant’
Ink skets en waterverf – Maree Clarkson
Drome het ook asem en trane en marteling, en die aanraking van blydskap; hulle lê swaar op ons gedagtes later, maar maak ons arbeid ook wel ligter; Hulle verdeel ons aandag, word deel van ons, soos die tyd self, en doen hul voor as boodskappers van die ewigheid.
— Vertaal vanaf Lord Byron
Ek woon in Tarlton, Gauteng, aan die grens van die Noord-Wes Provinsie in Suid Afrika, op ‘n 8,5ha kleinhoewe, waar die natuur meeste van my sketse inspireer.
HIER IS MY PLEKKIE
Uitsig vanaf die tuin na die voordeur deur die Halleria lucida (Boom Fushcia)
Voordeur vanaf onder die Karees
DIE OMGEWING TARLTON is geleë half-pad tussen Krugersdorp en Magaliesburg, grensende aan die ‘Cradle of Humankind’ (Wieg van die Mensdom) wat ‘n ‘World Heritage Site’ verklaar is deur UNESCO in 1999, en is 50km Noord-Wes geleë vanaf Johannesburg in Suid-Afrika se Gauteng-provinsie.
Die gebied beslaan 474 vierkante-myl en bevat ‘n komplekse reeks grotte, insluitende Sterkfontein-grotte, waar die 2.3-miljoen jaar oue fossiel Australopithecus africanus (“Mrs. Ples”) gevind was in 1947 deur Dr. Robert Broom en John Robinson.
Die ondergrondse meer diep in die Sterkfontein-grotte, en wat die oorsprong van die Magaliesrivier is wat 15km verder by ‘n oog in Maloney’s Eye (sowat 5km vanaf Magaliesburg) uit die grond uitborrel.
Om en by 5km van ons af, is Maropeng, met 2500m² se uitstallings van fossiele en klip-gereedskap miljoene jaar oud, met ‘n ondergrondse bootrit deur gange van soliede ys en voorstellings van vulkane en Antarktieka, restaurant, koffie-winkel en curio winkel. Maropeng bedoel “om terug te keer na die plek van oorsprong” in Setswana.
Maropeng van agter gesien
Maropeng ingang
Bootrit deur ondergrondse ys-tonnels
Een van die gange in Maropeng
Nog een van die gange – Evolusie van die Mens
Omtrent 10km vanaf ons geleë is die 1400-hektaar Krugersdorp Wildtuin, met Wit Renosters, Buffels, Kameelperde, Seekoeie, Swart Wildebeest, Zebras en vele bokspesies, insluitende die raar Sable Antelope, Tsessebe, Elande, Waterbokke, Koedoes, Oryx, Rooi Hartebeeste, Blesbokke, Springbokke en Impala, met ‘n spesiale 100ha afgekampte Leeu area in die middel van die wildtuin (waar die eienaar, Dirk Brink, so twee jaar gelede deur ‘n trop leeus aangeval en verskeur is). Die wildtuin spog met die uitstekende Ngonyama Restaurant en offer ook ware Afrika verblyf.
Ingang na die Krugersdorp Wildtuin
‘n Dam in die wildtuin waar ek al menigmaal skilpaaie of ander diertjies en voëls vrylaat.
Skuins oorkant ons plot is die welbekende Tarlton International Raceway, waar ‘dragsters’ die kwart-myl rekords verbreek en dorstiglik brandstof en buitebande verbrand!
Ons is ook omring deur vele volstruis-plase, vee-, groente- en blomplase, verskeie besighede, B & B’s en bloekombome, wat aangeplant is vanuit Australia vir die gebruik van houtpale en -stutte in die vele myne in die omgewing.
Rustenburg is ‘n uur se bestuur vanaf ons, Hartebeespoort Dam is so 40-minute ver en die ‘Magalies Meander’ strek vanaf Tarlton, deur Magaliesburg en deur Hekpoort, Vlakdrif, Maanhaarrand, Skeerpoort en tot by Hartebeeshoek, naby Broederstroom.
‘n Pragtige gedeelte van Gauteng om woonagtig te wees!
‘Goodbye…’ – W&N watercolour on Bockingford 300gsm – Maree Clarkson
I wish I had invented blue jeans: the most spectacular, the most practical, the most relaxed and nonchalant. They have expression, modesty, sex appeal, simplicity – all I hope for in my clothes.
In een van die boeke wat ek onlangs gelees het, A-Z van Seks, sê Elmari Craig seksuoloog, huweliksberader en skrywer van die boek,
“God het seks aan ons gegee om binne die veilige ruimte wat die huwelik skep, te geniet. ʼn Gesonde seksuele verhouding is die diepste vorm van kommunikasie tussen twee mense wat mekaar intens liefhet en trou aan mekaar belowe het. Dit skep geborgenheid, intimiteit en nabyheid. Dit is die sement wat jou huwelik beskerm. ʼn Gesonde seksuele verhouding is as’t ware geestelike oorlogvoering vir jou huwelik. Ek glo dat God juis vir ons die seksuele kant van menswees gegee het – nie net vir prokreasie nie, maar ook vir rekreasie, vir die lekker! – om ons liefde vir mekaar te vier en te versterk.”
Hoewel baie getroude vroue seks binne die huwelik geniet, is daar tog baie skuldgevoelens en wanopvattings wanneer getroude seks ter sprake is. “God het ons as seksuele wesens geskape,” verduidelik Elmari. “Ons word so gebore en bly seksuele wesens tot die dag dat ons sterf. Seks is deel van die lewe. Ons word baie onskuldig gebore en mettertyd leer ons om ons seksuele gevoelens te onderdruk – soveel so dat dit selfs moeilik word om oor seks te praat. Baie mans en vroue het min, geen of ʼn negatiewe seksuele opvoeding gekry. Ons word geïnhibeerd en seksualiteit word ʼn baie private aangeleentheid, veral met ons Afrikaanse, Calvinistiese agtergrond. Vir meer as 2000 jaar word persepsies oor seksualiteit ook deur godsdiens gevorm, soos byvoorbeeld dat seks sonde is, dat dit nie iets is om te geniet nie en dat dit ʼn plig eerder as ʼn plesier moet wees.”
Elmari ontbloot die drie grootste seksmites wat getroudes steeds glo: “Baie paartjies glo seks is vervelig, dat vrouens nie van seks hou nie – veral nie om te eksperimenteer nie – en dat seks op ʼn sekere ouderdom nie meer belangrik of reg is nie. ʼn Vrou kan selfs ná jare se getroude lewe haar man in die slaapkamer verower as sy met hom WIL seks hê en dit saam met hom GENIET. Wees oop vir nuwe dinge, probeer af en toe iets nuuts – al is dit dieselfde ding op ʼn ander manier – en onthou om te lag. Humor in die slaapkamer is kosbaar en essensieel.”
JOU SEKSUELE SIKLUS
“Die goue reël vir die slaapkamer is dat enigiets binne die seksuele verhouding goed en reg is mits albei daartoe instem, gemaklik daarmee is en dit niemand emosioneel of fisiek skade berokken nie,” sê Elmari. Hier is wat jy in die verskillende fases van jou lewe te wagte kan wees:
HOE DIT IS: “Jy en jou maat is in die ontdekkingsfase. Seksualiteit is ʼn proses om jou liggaam en behoeftes, sowel as die van jou maat, te leer ken.”
WAT IS NORMAAL: “Mans piek seksueel in hulle vroeë twintigs, maar vroue eers in hulle vroeë dertigs. In hierdie lewensfase waar alles nog opwindend is, het julle dalk meer gereeld seks as in die later jare.”
ALGEMENE PROBLEME: “ʼn Gebrek aan seksuele begeerte is algemeen by vroue aangesien hulle hul seksdrang lank onderdruk het en dit ná die troue weer moet optower. Paartjies kan ook ʼn verskil in seksdrang ervaar terwyl sommige mans voortydige ejakulasie ondervind. Vaginismes, waar die kringspiere van die vagina só saamtrek dat penetrasie onmoontlik is, word gewoonlik ook in hierdie fase gediagnoseer. Spreek ʼn seksuoloog aangesien al hierdie probleme oplossings het.”
GROOTSTE UITDAGING: “Omdat seks ʼn nuwe ervaring vir albei van julle is, is die grootste uitdaging om met mekaar te praat en gemaklik te raak met jou eie en jou maat se seksualiteit. Aanvaar seks as ’n Godgegewe gawe.”
DIE PLUSPUNT: “Julle is jonk en jeukerig en het krag vir allerhande nuwe dinge. Maak die beste van hierdie lewensfase waartydens julle net op mekaar ingestel hoef te wees.”
HOE DIT IS: “Gewoonlik het dié lewensfase baie uitdagings soos loopbaaneise, swangerskap en pienkvoete. Slapelose nagte en borsvoeding is dikwels nie bevorderlik vir erotiese gedagtes nie. Dit is egter ook in hierdie fase waar die vrou gewoonlik haar seksuele piek bereik en sy uiteindelik met haarself en haar behoeftes kan vrede maak.”
WAT IS NORMAAL: “ʼn Fokus op die kwaliteit van die seksuele aktiwiteit eerder as die kwantiteit van seks is hier baie belangrik. In hierdie fase is die fokuspunt wedersydse behoeftebevrediging.”
ALGEMENE PROBLEME: “Soms kan ʼn gebrek aan seksuele begeerte in hierdie fase ontwikkel weens die eise van die lewe, ʼn gebrek aan emosionele intimiteit in die huwelik of onopgeloste konflik of gevoelens wat oor tyd opgebou het. Al hoe meer mans in hulle dertigerjare begin ook erektiele disfunksie ervaar weens hulle besige lewenstyle of erge spanning.”
GROOTSTE UITDAGING: “Stres en tydsbestuur vir emosionele en fisieke intimiteit is in hierdie fase die groot sondebok. Bly fokus op jou huwelik en jou huweliksmaat as eerste prioriteit, dan julle kinders en dan jou werk.”
DIE PLUSPUNT: “Jy het die insig om met jouself vrede te maak. Jy en jou maat ken julle seksuele behoeftes en kan nou openlik daaroor kommunikeer. Geniet dit!”
HOE DIT IS: “Jy en jou maat kan nou net julleself wees. Jy het die wysheid om te weet dat niks perfek is nie. Jy kan gemaklik wees en van al jou inhibisies ontslae raak. Jou seksualiteit kan blom aangesien julle waarskynlik nou meer tyd het en die kinders meer onafhanklik is.”
WAT IS NORMAAL: “Jou estrogeenvlak mag begin daal en jy kan peri-menopousale simptome soos warm gloede, ongereelde maandstondes of vaginale droogheid begin ervaar. Hou dus altyd ʼn smeermiddel byderhand. Jou man het waarskynlik langer en meer direkte stimulasie van sy penis nodig en het ook ʼn langer refraktoriese fase (die tyd wat dit neem om weer ʼn ereksie te kry).”
ALGEMENE PROBLEME: “Vaginale droogheid is in hierdie fase ʼn algemene probleem en mans kan ook met erektiele disfunksie begin sukkel.”
GROOTSTE UITDAGING: “Dis baie belangrik om met jou veranderende lyf vrede te maak en mekaar op ʼn nuwe vlak seksueel te ontdek. Al speel julle reeds jare lank die spel van die liefde, moet julle probeer om dit opwindend, vars en nuut te hou.”
DIE PLUSPUNT: “Julle ken julle eie en mekaar se liggame en behoort nou gemaklik oor die seksuele te kan kommunikeer. Geniet die voordeel van tyd!” – Elmari Craig
(Ek wonder nou eintlik net wat het geword van seks in die 60’s…)
TIEN KENMERKE VAN ’N SEKSGODIN
’n Seksgodin …
WENKE VIR VA-VA-WOEMA!
Ek wens almal ‘n vreugdevolle en seksie naweek toe!
Groete,
MAREE