‘n Plan B

 

.
Ek sit nou hier en dink aan die verganklikheid van die lewe – en die ouderdom. Dis nog nooit juis iets waaraan ek aandag gegee het nie. Mens word ouer, jy kan minder doen, jou vel is meer verrimpeld (en nog meer!), en daar is ’n paar skete en pyne. Gelukkig is ek nog vol energie, het goeie gesondheid (was laas in die hospitaal met die geboorte van my dogter 47 jaar terug) en my brein is nog so skerp soos ’n naald. My geheue ook.

Waaroor dit nou eintlik gaan is die feit dat ek artritis ontwikkel het in my duime. Ek sukkel om ’n speld van die lessenaar af op te tel en het so nou en dan pyn, veral in die winter. En daar’s swelsel. En ’n knopperige been wat ek net bokant elke duim kan voel. Andersins is daar nie probleme met my hande (of duime nie), ek kan nog goed soos bottels en allerhande dinge perfek hanteer en optel (oopmaak is nie meer so maklik nie en aartappels skil is baie moeilik) en ek kan nog my verfkwas en potlood vashou. En ek kan nog (vinnig) tik op my rekenaar se sleutelbord. Dit verg min duim-verbruik.

Nou hier’s die ding – wat gebeur die dag as ek nie meer my verfkwas kan vashou nie? As ek nie meer kan teken of skilder nie? As ek nie meer in my Joernale kan skryf nie? Dis waaruit my lewe bestaan – skilder. En tuinmaak. En herinneringe neerskryf. En wat gebeur die dag as ek nie meer daai dinge kan doen nie? Dis mos dan nou tyd om vooruit te dink en te besluit wat ek gaan doen indien so iets gebeur.

Nou, my pa het altyd gesê, moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie. Maar my geaardheid neig bietjie na vooruit beplan, bietjie van ’n “control freak”, alles het ’n plek en alles moet reg wees. Daar’s altyd ’n plan B ingeval dinge bietjie verkeerd loop. En wat ek nodig het is ’n plan B.

Maar voor ons by Plan B uitkom, eerste van alles, ek glo in die doktrine van Louise Hay, dat al ons siektes en skete vanaf ons gedagte-patroon afkomstig is. En in haar boek “Heal Your Body with your Mind” is die oorsaak van artritis in ledemate as volg : “Arthritis in joints represents changes in direction in life and the ease of these movements.” Reg. Dit verstaan ek. Ons is nou op die ouderdom (ek is hierdie jaar 71) waar ons afgetree het en in die proses is om ons plot, waar ons al 42 jaar woonagtig is, te verkoop en kus toe te verhuis. Dis ’n groot verandering. Daar’s gedagtes van my tuin, al my diere, my hoenders, te veel goed in ’n groot 3-slaapkamer huis om saam te neem en wat van alles gaan word.

Die nuwe gedagte-patroon om aan te leer, volgens Louise, is, “I easily flow with change. My life is Divinely guided and I am always going in the best direction.” Lees weer, “Best direction”, nie “right direction” nie. My pa het ook altyd gesê, alles gebeur vir die beste. Mens kan nooit sê watter besluit is reg of verkeerd nie, dis net ’n besluit, maar wat jy met die besluit doen is wat belangrik is. En nou die dag het ek ook afgekom op hierdie pragtige gesegde : ♥ “I am not sad because it is over, I am smiling because it happened.”

.
Al my herinneringe is veilig, ek sal vir ewig dankbaar wees vir die lewe wat ek hier gehad het, die diere wat ek lief gehad het en wat vir my lief was, al die ondervindings en al die lief en leed. So, van hier af beweeg ek met gemak vorentoe in die beste rigting wat ek kan. En koebaai artritis.

Nou vir Plan B. Sonder artritis gaan ek nog verf en skilder en teken en skryf totdat ek ’n honderd jaar oud is. Ek gaan nog nuwe saadjies saai en plantjies in ’n stukkie grond plant, al is dit net in ’n potjie of twee. Ek gaan kaalvoet op die strand loop en skulpe optel, ek gaan saam met my dogter en kleinkinders rond kerjakker en nuwe dinge sien, nuwe dinge leer en nuwe dinge doen. En dit alles met ’n dankbare gevoel vir dit wat ek nog het wat perfek is.