Bulbine frutescens – Balsemkopiva

Tuinmaak is een van die groot plesiere van die lewe vir my. Om in ‘n stukkie grond rond te vroetel is hemels. En daar’s niks beter as die reuk van nat grond na ‘n lekker reënbui nie.

‘n Inheemse en pragtige en vrolike plant vir jou tuin wat oulike randplante, asook houer plante, maak is Bulbine frutescens of Balsemkopiva. Die plantjie groei maklik en alhoewel ek myne as saailinge gekoop het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie in die grond druk en omtrent drie weke later het jy ‘n nuwe plantjie.

Balsemkopiva plantjies benodig nie baie water nie, hulle is waterslim plante en hulle oorleef ook taamlike swaar ryp redelik maklik. Hulle kan oorleef op baie droë gebiede en hou van vol son. Boonop lok hulle ook baie bye en skoenlappers na jou tuin.

Dis ‘n eg Suid Afrikaanse plantjie met baie medisinale waarde. Die blaarsap word gebruik vir onder andere sere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope en insek bytplekke. Met tuinwerk is dit onvermydelik om soms skrape en steke op te doen, dan pluk ek sommer ‘n blaartjie (of stengel) en smeer die sap aan die wond. Dit is ook wonderlik vir koorsblare, aknee, brandwonde, skaafmerke, waterblase, gebarste lippe en gebarste vingerpunte.

Kom oorspronklik in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en dele van die Kaap voor. Die plant groei waar niks anders wil groei nie en is boonop droogte-, hitte-, lugbesoedeling- en rypbestand.

Ander name : geelkatstert, katstert, kankerbossie en, in die volksmond, ook as snotbossie, weens die slymerige jel tussen die blare.

.

Laat daar altyd blomme in jou lewe wees… dit laat jou beter voel

Veldblommetjies op ons plot

“If you have two pennies, spend one on bread and the other on flowers. The bread will sustain life. The flowers will give you a reason to live.”

 

Daar is altyd blomme vir diegene wat dit graag wil sien. Al sal dit party dae moeilik gaan, moet jy steeds die mooi en goeie dinge in jou lewe raaksien en waardeer.

 

Sodra ek net ‘n bietjie ontsteld voel, gryp ek gewoonlik na my skilderkwas, maar gister het ek die natuur nodig gehad. Ek het laat-middag my kamera gegryp en koers gekies veld in. Die reuk van die nat gras na die vorige aand se heerlike reën, die warm sonnetjie op my skouers in die koue en die geswiep van die gras teen my bene het my onmiddellik beter laat voel.

 

Oral was daar reëndruppels wat in die sonlig geskitter het en die mooiste veldblommetjies wat tussen die gras weg gekruip het. ‘n Paar patryse het vinnig in die paadjie voor my tussen die gras verdwyn asof hulle nooit eers daar was nie en die Diederiks Cuckoo se weemoedige geroep in die Bloekombos het my nader gelok, maar dié outjie is gans te geheimsinnig om ‘n foto toe te laat. Ek het lank gestaan en luister voor ek die paadjie weer huistoe gevolg het.

Ek het beter gevoel, want daar is blomme in my lewe…

 

::