Vulpenwoorde

In regte vulpenwoorde
op vlaktes wit papier
lê ek gedagtes neer: vertel van nou en hier
soos pienk papaja in my mond,
rol ek die woorde om en om,
adres eers in die regterhoek
vir ingeval jy my dalk elders
op ver of vreemde plekke soek
my hand strelend oor die wit
vroegoggend het ek wéér vir ons gebid
en toe dié wit brief,
seëlgeplak en oerbekend,
so duifsag in jou palm lê,
het jy alreeds geweet
wat ek so bittergraag vir jou wou sê?
want met die oopskeur saam
ruik jy mos my naam
en ou vreugdes tuimel
nogmaals oor jou binnemens
hoe soet proe tog
dié blywees van ons mooiste wens!
– Pragtige woorde uit die pen van Elizabeth Kendall© op een van my waterverfskilderye
::

Weggooi-goed

‘n Paar van my ou skilder verfborsels op ‘n rak in my ateljee – uitgedroog en hopeloos verby!

Kan jy ook nie goed weggooi nie?

Ek het rakke en rakke en bokse en bottels en roomysbakke en tasse vol goed! So elke nou en dan voel ek oorweldig dan is daar ‘n poging om van dit ontslae te raak, maar gewoonlik nie baie suksesvol nie.

Maar ‘n plus daaromtrent is dat ek mooi goed ontdek waarvan ek vergeet het en dan bring ek dit uit en her-rangskik alles in die huis weer ‘n bietjie. Dan gaan die ‘nuwe’ goed ou-bokse toe, tot volgende keer.

Nou die dag het ek ‘n klomp skulpe in ‘n boks raak geloop, van dae toe ek nog skulpe bymekaar gemaak het. Ek het die mooistes uitgesoek en die res is tuin en blombakke toe – ek kon dit nie weggooi nie!

Dis dieselfde storie met vere. Hulle sê mos ‘moet nooit verby ‘n veer loop sonder om dit op te tel nie’. Wel, dis wat ek doen, tel al wat ‘n (mooi) veer is op. Ek gebruik baie daarvan wanneer ek juweliersware maak, maar die res is in bokse en bottels en ook ‘n laai of twee!

‘n Halssnoer met ‘n veer

Ander goed wat ek nie kan weggooi nie is bokse, stukke hout, bottels en draad. Dis nie lank nadat ek dit weg geggooi het nie dat ek iets wil bou en dan is ek op soek na dit! So nou sal alles maar net bly waar dit is totdat ek dit eendag nie meer kan vat nie en ‘n groot skoonmaak weer begin!

‘n Hoekie in my “garden shed” vol “nodige” goed
::

Bosveld gedagtes

Foto geneem by Thaba Monaté naby Bela-Bela gedurende ‘n besoek ‘n paar jaar gelede
Gedagtes van die bosveld, skone velde en natuurskoon wat die hart laat rustig verkeer. Drome van vlaktes en wild en vryheid. Van voëls en anderse bome. Dis waar my gedagtes deesdae is.
Ons bly al dekades op ons kleinhoewe in Tarlton en toe ons in die mid-70’s hierheen verhuis het, was ons die enigste inwoners vir myle. Maar stadig oor die jare het vooruitgang sy tol geneem en is ons nou deur mense omring aan alle kante. Al die inheemse bome is afgekap om plek te maak vir ‘n huis, die tarentale is nêrens meer te sien nie en die uile is skaarser as hoendertande.
Ons is geleë op die hoofpad tussen Krugersdorp en Magaliesburg op pad na Botswana en destyds was dit maar net ‘n smal, swak-geteerde teerpad met min verkeer. Maar dit is al 3 of 4 maal opgegradeer as gevolg van al hoe meer verkeer en dit klink deesdae soos Eloffstraat op ‘n Saterdagoggend en dreun enige natuurlike klanke heeltemal uit.
Nou hunker my hart na die verte van die bosveld, weg van mense, weg van die verkeer en weg van die beskawing.
Maar dalk is ek net vandag in ‘n slegte bui, dalk is ek net ondankbaar vir al die seëninge wat ek wel het, dalk is dit net Sondagmiddag hunkeringe – miskien voel ek môre beter…
Om die kampvuur by Thaba Monaté
::
Bokant alle hange
is rus,
loerie se gesange
vaak gesus,
net soos die wind
wat loom sy lê in kriebos kry;
wag net, ook jy
sal gou rus vind!
—Verafrikanisering deur Dugeot van die Duitse digter Goethe se “Über allen Gipfeln”
Sonsondergang oor die Waterberge – Foto geneem deur Rudi Janse van Vuuren©
::

Is dit tyd vir aftree?

Aftree. Ek is nou op daai ouderdom en dis ‘n woord wat ek baie hoor deesdae. My dogter vra, “Wanneer gaan julle aftree, Ma?” Ander afgetrede vriende van ons ouderdom (ek en my man grens albei aan 70) vra ook die vraag, “Wanneer gaan julle aftree?” Nou het ek begin dink, is dit dalk tyd vir aftree?

Maar aftree van wat? Van werk? Vir die afgelope twintig jaar of so bedryf ek en my man ons trekker-besigheid hier op ons plot en ek kan waarlik sê dat daar min dae was wat soos “werk” gevoel het. Ons deure is oop van 8vm tot 5nm in die week, geen naweke nie maar as daar wel navrae vir trekkeronderdele is op ‘n Saterdag, skroom ons nie om iemand te bedien as ons wel by die huis is nie.

Ons tyd is ons eie. Ek hoef nie my inkopies op Saterdae te doen omdat ek “werk” nie. Ek doen inkopies gedurende die week. As dit ons pas en as die werklading dit toelaat, dan sluit ons die deure en gaan kuier vir my dogter by die kus vir ‘n paar dae. Ons gaan eet gereeld ontbyt saam by die Wimpy in Magaliesburg wanneer dit ons aanstaan en tussen-deur sien ek om na my hoenders, werk in die tuin, skets en skilder gereeld en beoefen ‘n paar ander kreatiewe dingetjies wanneer ek lus is.

Ek stap gereeld vroeg-oggend of laat-middag op die plot rond, kamera of sketsboek in die hand, op soek na iets moois om te teken of af te neem. Ek laai en verkoop my kuns op verskeie webwerwe op die internet en ‘n hele paar blogs hou my besig. My man se stokperdjie is om aan ou, klassieke karre te peuter en hy neem deel aan byeenkomste en uitstappies oor die Boere-oorlog geskiedenis van ons land, wat al sy spaar tyd, so tussen werk deur, in beslag neem.

Nou wonder ek net – aftree van wat? Wat is aftrede eintlik? Om op te hou werk?

Toe lees ek êrens ‘n definisie van aftrede : “aftrede is ’n aksie waartydens ’n werker ophou om sy/haar hoofberoep te verrig, terwyl hy/sy steeds ’n inkomste ontvang in die vorm van pensioen. Omdat baie werkers voortgaan met arbeid op ander terreine, kan aftrede ook beskryf word as ’n radikale verandering en ’n voortgaande proses.”

Mense sien met verwagting uit na die dag wanneer hulle finaal van werksdruk, tydsdruk en ’n magdom verantwoordelikhede verlos kan wees om hulle eie ding rustig en ontspanne te kan doen. Arbeid het die mens se lewensiklus geword, met aftrede as die finale fase in die siklus. Eers in die twintigste eeu het mense lank genoeg bly leef om te kan aftree. In die Steentydperk was die gemiddelde lewensverwagting ongeveer 18 jaar, in die Romeinse tyd 22 jaar, in die Middeleeue 25 jaar en teen 1900 was dit 44 jaar. Vandag kan ’n man verwag om 76 jaar en sy vrou 80 jaar of ouer te word.

So aangesien dit blyk dat daar nog so om-en-by twintig of dertig jaar vir ons voorlê, met of sonder om te werk, is dit dalk nou meer ‘n geval van aftree van ou gewoontes; aftree van die roetine van 7vm wakker word, half-agt te bad en 8-uur die deure vir besigheid oop te maak, aftree van die roetine om 10uur ontbyt te gaan eet, aftree van die roetine van dinge oor en oor dieselfde te doen.

Dalk is dit nou tyd om partymaal eers 9-uur op te staan; dalk is dit nou tyd om vir ‘n verandering in ‘n vreemde land in ‘n vreemde bed wakker te word, dalk is dit nou tyd om Mount Everest te gaan klim. Dalk is dit nou tyd “to be what you might have been.”

Volsirkel : George Eliot het gesê, “It’s never too late to be what you might have been”. Maar ek dink dit is klaar te laat – ek voel ek is al klaar ‘what I might have been’.

So ek dink ons lewe is ‘n voortgaande proses. Ons hoop om hier dood te gaan, afgetree of te nie – Dave in sy werkswinkel en ek voor my esel of die rekenaar, besig om een laaste blog-pos of skilderstuk te doen (die onvoltooide meesterstuk.)

.

Bright-eyed en Bushy-tailed

Saterdae is seker altyd vir almal spesiaal, die begin van die naweek en mens sien vooruit na twee dae van rus of speel, hang af hoe jy voel. Maar wat jy ookal doen, ek wens jou ‘n heerlike dag toe en mag jou naweek vol inspirasie wees!
Idioom
bright-eyed and bushy-tailed – alertly eager; full of energy and enthusiasm: ‘Get a good night’s sleep so you’ll be bright-eyed and bushy-tailed in the morning.’
::