Bloedrooi die aalwyn in winter

Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.

En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!

::

Wat beplan jy vandag?

Somer is hier en alles vra gelyktydig vir aandag!

Die tuin is dors, Torti (my Bergskilpad) het ontwaak vanuit haar winterslaap en vra om gevoed te word (sy’s nog steeds hier by my nadat ons haar van iemand se pot gered het en elke jaar belowe ek dat, wanneer die somer kom, gaan ek haar vrylaat maar elke winter, as ons al die vreeslike veldbrande beleef, dan word dit weer afgestel…)

Na 2 maande se hibernasie is Torti ook reg om die somer aan te pak.

Al die hoenders is gelyktydig broeis! Dis ‘n groot job om elke dag eiers weg te vat want nog meer skroppende pootjes in die tuin soek ek definitief nie en dan is dit geduldig wag terwyl elke hennetje, eierloos, haar 19 dae uitsit.

Dis pure plesier om baadjie uit te trek, tekkies te verruil vir sandale en weer ‘n tuinslang in die hande te kry. Al die ou en dooie goed is alreeds afgesny en uitgehaal, beddings is mooi gemaak, paadjies is opgeknap en die tuin soek nou bietjie nuwe plantjies, nuwe geselskap, na maande se rus.

En om nie eers te praat van MYSELF nie, my eie liggaam – my hande voel skurf en verwaarloos, my arms en bene soek bietjie sonskyn (vanjaar is die jaar dat ek ‘n mooi kortbroek aanskaf! Op 69 is daar mos nie meer sprake van omgee wat ander mense dink nie, jy’t mos lankal lief geraak vir jouself en jouself aanvaar nes jy is! As ons maar tog net dit kon leer terwyl ons 20 of 30 of 40 was in plaas van om ‘n droom van ‘perfeksie’ na te jaag…)

So, wat beplan jy vandag? Ek sal êrens buite wees, besig om die son te geniet…

.

.

Pienk en pers verwondering

My Krismisroosblomme het verbete geklou dwarsdeur die winter maar skielik was hulle definitief op hul laaste. Ek het die laaste paar blomme gepluk, in bietjie water gesit, nog ander opgehang om droog te word en ‘n paar in ‘n mandjie gepak om ook droog te word.

Al ooit gesit en wonder hoe kry jy die blomkleure van krismisrose na jou sin (pienk of blou)? Die kenners sê blom kleur word beinvloed deur die grond:

1) Suurgrond gee donkerblou blomme – Dit kan aangehelp word deur Shake and Grow Blue toe te dien of eierdoppe in die grond te werk.

2) Alkaliese grond gee pienk/rooi blomme – Dit kan aangehelp word deur Shake and Grow Pink of landboukalk toe te dien. Onthou net dat die grond toestand nie “oornag” verander kan word nie, so begin dus reeds in die winter maande met jou toediening. (Wit blomme se kleur kan nie verander word na pienk of blou nie.)

Maar nou verstaan ek nie hoe is dit dan dat ek beide pienk en pers blomme aan een bos het nie!

::

‘n Binnenshuise wintertuin

Meeste van my geliefste potplante was nog in die huis so ‘n weke terug, ‘n jaarlikse winter-gebeurtenis wat my waskamer in ‘n blommekamer verander. Tussen wasmasjiene en tuimeldroërs en opgevoude wasgoed geniet hulle ‘n plekkie in die son.
Aan die begin van elke winter word almal binne toe gedra en daar bly hulle en gesels ons met mekaar tot Lente haar kop uitsteek en almal weer uitgedra word na hulle respektiewe plekkies buite op die stoep of in die tuin.
Symperviums, ‘n geskenk van ‘n geliefde vriendin
 ::

Lied van die natuur

‘n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale…
Om ‘n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome.
::
Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
 
Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
 
Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido)
::