Kruie kraai koning!

Nadat ek ‘n ruk terug ‘n program op KykNet gesien het oor Antoinette Pienaar en Oom Johannes (al in sy 90’s) wat in die Groot Karoo met kruie handel dryf, is ek totaal geïnspireer om weer ‘n kruietuin te probeer aan die gang kry.
Ek het hul webwerf, Kruie Kraai Koning, besoek en op wonderlike inligting oor kruie en hul genesende eienskappe afgekom. Ons almal wéét mos van kruie en wat hulle kan verrig, maar dis wonderlik om kruie te ontdek wat almal reg hier in Suid Afrika groei en dit nogal in Afrikaans.
Antoinette se storie begin toe sy in 2001 op kleinneef Jacques Pienaar se plaas Theefontein ogepdaag het, ernstig verswak nadat sy serebrale malaria in Wes-Afrika opgedoen het. Dokters het aan haar gesê om maar reg te maak vir ‘n vroeë dood omdat haar lewer en niere baie skade opgedoen het.
Hier het sy vir Oom Johannes Willemse ontmoet en by Oom Johannes het sy geleer van veldkuns, veldkruie, kruiepreparate voorberei en lewe soos die ou mense gelewe het. Sy het eerstehands ondervind hoe die kruie haar organe versterk het en is nou volkome gesond. “Konvensionele medikasie neem in baie gevalle die werking van die geaffekteerde orgaan oor, maar kruie versterk die orgaan sodat hy self die werk kan doen. Kruie werk op fisiese sowel as emosionele vlak in die liggaam en verlig daarom ook simptome wat saam met post-traumatiese stres gaan,” sê Antoinette.
Ek self het ‘n paar weke terug verkoue opgedoen met ‘n geniesery en gehoesery wat na ‘n week in longontsteking ontaard het. Right, dokter toe, kry die nodige antibiotika en iets vir die hoesery. Die antibiotika was baie sterk, dieselfde wat hulle sou toegedien het indien ek hospitaal toe is (het vir dokter gevra, asseblief, net nie die hospitaal nie!) Na ‘n week was die antibiotika klaar en ek het nog nie beter gevoel nie. Kort-kort weer ernstig siek gevoel, kort-kort nog na asem gesnak en die hoesbuie was definitief iets om oor huistoe te skryf! Nog ‘n week later was ek  ernstig bekommerd en het gewonder of ek weer moet terug dokter toe, veral aangesien ek nie meer so jonk is nie (het hierdie jaar 71 geword). En dan? Nog meer antibiotika? Nog meer hoesmedisyne? Dit het net nie vir my reg gevoel nie. Ek het daaraan gedink om Dischem toe te gaan en verskeie vitamines en gesondheidsrate aan te skaf, maar ek vertrou ook nie sommer allerhande sintetiese en chemiese goeters nie.
Ek het besluit om intussen, tot ek tot ‘n besluit kan kom, baie water te drink en het 12 bakkies plein jogurt gekoop, een vir elke dag vir die volgende twee weke. Joghurt bevat mos natuurlike goeie bakterieë (lewende kulture) wat jou liggaam help om te herstel na die verlies van natuurlike bakterieë vernietig deur die antibiotika. Binne ‘n week het ek beter begin voel – my asemhaling het terug gekeer na normaal (behalwe as ek êrens heen gehardloop het!), ek het nie meer “siek” gevoel nie en die hoesery het baie verminder.
Ek het ook op Kruie Kraai Koning se webwerf afgekom op ‘n boereraat vir longontsteking en dis nou juis dít wat my laat besluit het om, vir die toekoms, ‘n kruietuin te plant. Dit maak vir my heeltemal sin om die natuurlike roete van genesing te kies. Ek het ook groot geword in ‘n gesin met ‘n apteker vir ‘n pa. Seer mangels is nie verwyder nie maar behandel met Rooi Aluin, wat dit laat krimp het en gesond gemaak het, oorpyn was behandel met lou-warm kasterolie en elke Vrydagaand was dit ‘n eetlepel kasterolie-tyd. Vir ‘n hoofpyn is ons gesê om water te drink en vars lug buite te gaan soek. Ek kan glad nie eers een doktersbesoek as ‘n kind onthou nie (behalwe vir ‘n gebreekte arm toe ek uit ‘n boom geval het!). En dwarsdeur my twintigs, dertigs, en veertigs tot nou het ek nog nooit sommer pille gedrink nie. As gevolg voel ek dat my immuunstelsel baie sterk en gesond is en kon die longontsteking baie erger gewees het.
Foto vanaf Kruie Kraai Koning
Raat vir Brongitis, longontsteking en emfiseem
Neem vier takkies wilde-als, lengte vanaf die pols tot wysvinger, en een takkie wynruit, ook vanaf die pols tot die wysvinger. 
Neem nieshout, skraap een teelepel se waarde splinters met ‘n messie af. 
Plaas alles in een liter water, voeg 1 1/2 koppies suiker by en kook die mengsel op ‘n matige hitte vir 45 minute. 
Laat die stroopmengsel afkoel en gooi dit dan af in ‘n glasbottel wat jy in die yskas hou. 
Neem ‘n kelkie (Engelse “tot”) drie keer per dag. 

Gebruik die mengsel soos nodig. 

Groei wilde-als en wynruit in jou tuin, die plante is by sommige kwekerye beskikbaar.

Ek weet baie mense dink “self-medikasie” is gevaarlik en dat mens nie sommer alles moet glo wat jy hoor of lees nie, maar natuurlik sal ek elke plant se veiligheid en genesings-eienskappe deeglik navors voordat ek dit plant of gebruik.

En dalk sal ek een van Antoinette en Oom Johannes se “werkswinkels” bywoon – Die werkswinkels en verblyf vind plaas in the Groot Karoo, op Juriesfontein, ‘n buurplaas van Theefontein. Die plaas is ‘n uur se ry van Beaufort-Wes af, op ‘n goeie grondpad. Antoinette en oom Johannes sal begin deur te vertel van die kruie wat op die vlaktes en in die klowe groei, waar hulle voorkom en hoe hulle medisinaal gebruik kan word. Daar sal aandag gegee word aan hoe die liggaam en die organe fisies weerspieël wat emosioneel in die mens gebeur en hoe die kruie nie net fisiese verligting gee nie, maar ook op emosionele vlak genesing bring. Dan sal hulle uitbrei en kortliks vertel van medisinale tuinkruie en hoe ‘n mens jou eie apteek in jou agterplaas kan plant. Dae 2 en 3 offer nog meer inligting en inspirasie voor almal mekaar groet en met hernuwe energie terugkeer na ons huise.

Sien jou daar!

‘n Lys van Kruie om te plant (vir my eie inligting):

  • Bergpatat help met gewigsverlies omdat dit die metabolisme stabiliseer.
  • Bitterbos help om die lewer te ontgif en kan met sukses gebruik word vir mense wat lewerkanker, hepatitis en lewerkwale het.
  • Dasbos en Balderjan help om nn verkoue uit te sweet.
  • Dasbos en Karmedip help met blaasontsteking en ander blaasprobleme, asook prostaatprobleme aangesien dit verseker dat die blaas behoorlik geledig word.
  • Dasbos en Klipgruis ontgif die liggaam en help met nierprobleme omdat dit die waterbalans in die liggaam reguleer.
  • Dasbos en Renostertop versterk die longe in pasiënte met tuberkulose (TB).
  • Dawidjie-wortel help met die geheue.
  • Dermpoeier bestaan uit 14 verskillende soorte wortels wat op ‘n maalklip gemaal word en help met toestande soos spastiese dikderm, geïrriteerde dermsindroom, maagsere en hardlywigheid.
  • Gifbolblare versnel die genesing van wonde en bedsere.
  • Grashout verlig winde op die maag.
  • Kalmoes help mense wat wil ophou rook deur rooklus meer hanteerbaar te maak.
  • Kaneelbol stabiliseer bloedkondisies soos bloedduk, bloedsomloopprobleme en spatare, en cholesterol.
  • Kankerbossie en Karmedip verlig die simptome van blaaskanker, prostaatkanker en kanker van die pankreas.
  • KANKERBOSSIE, DIE KONING VAN KRUIE
    Kankerbossie is die kruie met die meeste streeksname, dit word in die Karoo Willekeur, Kalkoentjies of Gansies genoem,  in die Overberg word dit Keurtjies genoem en in die Weskus word dit Jantjie Berend. As n mens met ouer mense praat en vra watter kruie hulle die meeste gebruik het, is die antwoord meestal ‘Keurtjies’.
    Meeste kruie wat ‘n mens gebruik, word gebruik vir ‘n 3-maande periode, dan los ‘n mens dit vir 3 tot 4 maande om die liggaam tyd te gee om die genesing verder te vat. Dit bly vir my interessant dat die moderne mens klaarblyklik vergeet het dat die menselike liggaam so ontwerp is, dat die liggaam homself keer op keer self kan genees. Dis hier waar Kankerbossie inkom, dit hou die immuunstelsel sterk en as dit sterk is, word al die organe ondersteun. Hierdie krui is al een wat jy jaar in, jaar uit kan drink, elke dag.
    Daar is onlangs baie navorsing gedoen oor Sutherlandia frutescence en wetenskaplikes het onteenseglik bewys dat Kankerbossie die immuunstelsel versterk en dat dit die hoof-kruie is om voorkomend kan drink. Mans hoef nie te wag om 40 jaar oud te word om Kankerbossie saam met Karmedip te drink om n gesonde prostaat te verseker nie en vrouens kan Kankerbossie saam met Katjie-3-Blaar gebruik om te help met die geweldige simptome van menopouse.
    Dis wetenskaplik bewys dat Kankerbossie TB en HIV pasiënte help met hulle geweldige gewigs-verlies, want dit help om pasiënte ‘n eetlus te gee, asook met die bou van spiere, na ‘n lang siekbed. Hierdie kruie help ook met angstigheid, die vloek van die moderne eeu, omdat dit die Kortisol vlakke in die liggaam verhoog. Kankerbossie het ook anti-inflammatoriese en anti-oksidant komponente en kan ook verligting gee vir mense met tipe 2 Diabetes. Hierdie kruie moet langdurig gebruik word, mens kan dit nie net vir 3 weke gebruik en dan tot die gevolgtrekking kom ‘dat die kruie nie werk nie’.
    As ‘n mens kruie gebruik, is ‘n mens deel van die proses van jou genesing, want jy moet toegewyd wees om te onthou om dit daagliks te gebruik, dit gereeld voor te berei en ook emosioneel betrokke te word met jou fisiese herstel. Toe ek begin kruie gebruik, het ek begin leer om te luister na my liggaam en besef elkeen van ons ken ons liggame die beste en deur bewus te wees van hoe jou liggaam werk, so kan jy voorkomend te werk gaan.
  • Katjiedrieblaar help met hormoonbalans, premenstruale-sindroom (PMS), menopouse en warmgloede. Kan met groot sukses gebruik word in die plek van hormoonvervangingsterapie. In kombinasie met kankerbossie kan dit gebruik word om die immuniteit van kankerpasiënte te verbeter.
  • Kraalbos versterk die kopvel sodat dit verhoed dat hare uitval en die teruggroei van hare stimuleer. Dit verbeter ook algemene kondisie van hare.
  •  Knoffel – Koning in jou tassie van winter-doepas
    Die winter is die tyd dat die imuunstelsel oortyd moet werk om al die verkoues, griep en brongitis hok te slaan en hier is organiese knoffel ‘n uitstekende bondgenoot. Rou knoffel, knoffel in sop, knoffel saam met Dasbos en Klipkruie help om die liggaam sterk te hou deur die wintermaande.
    Die meeste knoffel wat mens in supermarkte koop, word ingevoer uit China uit, waar dit baie keer geneties gemanupileer word om min of meer almal dieselfde te lyk en bestraal word om te voldoen aan invoer vereistes. In die Karoo, naby die klein dorpie Loxton, is Johan Scholtz al n paar jaar besig om organiese knoffel te verbou. Ek het dit onlangs begin gebruik en ek kon nie die verskil glo nie! Die knoffel smaak anders, “lewendig”, sou ‘n mens dit kon noem. Ek is baie gelukkig dat ek so naby die knoffellandery woon, want ek sal van nou af sorg dat ek nie sonder hierdie bondgenoot is nie. Johan se tel nr is 0533 813 905 en sy e-pos adres is elandshcoltz@gmail.com.
    Onder Boererate, is daar ‘n resep vir gout en artritis, waar ‘n mens 1kg knoffel gebruik en hier is ‘n geleentheid om organiese knoffel te gebruik. Trouens, dit is noodsaaklik om organiese knoffel te gebruik, as jy knoffel medisinaal gebruik.
  • Kruitjie-roer-my-niet verlig tenniselmboog, heupprobleme en verstuite gewrigte. Dit is uiters giftig en moet slegs uitwending en met groot versigtigheid gebruik word.
  • Lukwartboomblare en Rooivergeetwortels verbeter suikervlakke in diabetes-leiers wie terselftertyd ‘n gesonde dieetprogram volg.
  • Manskruie verminder impotensie.
  • Manskruie en Vrouekruie kan help vir mense wat sukkel om swanger te raak.
  • Oogbossie help met oogprobleme soos oë wat baie water, asook met katarakte.
  • Oondbos verlig hoofpyn, gewoonlik in kombinasie met ander kruie wat waarskynlik die hoofpyn veroorsaak.
  • Rooivergeetwortels en Jakkalsbos help met hartprobleme, veral na hartomlynings aangesien dit bloed versterk en die orgaan help om trauma te hanteer.
  • Velpoeier help met ekseem, psoriase, gordelroos en kopluis.
  • Vlak-grashout is ‘n vinnige maar sterk manier om van ‘n verkoue ontslae te raak.
  • Wildepampoen verlig rugpyn.
  • WynruitWilde-als en Nieshout genees longkwale, asma en brongitis.

(Vanaf Kruie Kraai Koning)

Advertisements

‘n Eko-vriendelike tuin

Wanneer laas kon jy ‘n skoenlapper se pragtige kleure bewonder? Of ‘n by waar hy naarstigtelik besig is om stuifmeel bymekaar te maak? Lanklaas? Waarskynlik, want deesdae word alles mos bespuit met al wat gif is. Selfs heuningbye word bedreig.

Help ‘n by in nood!

Waarvan ons en ons nageslag gaan lewe as heuningbye en skoenlappers van die aarde af verdwyn, is ‘n ope vraag. Naas water en suurstof, is bye en skoenlappers onmisbaar vir oorlewing, want daar is niks wat die bestuiwingsfunksie so kan vervul nie, en niemand kan daardie funksie by hulle oorneem nie. Die goeie nuus is dat ons kan tuinmaak om skoenlappers en bye te lok. Omdat die huidige habitats en voedselbronne minder word, moet ons bestaande bye-vriendelike plante beskerm en in stand hou deur meer bye-vriendelike plante aan te plant.

Hoewel bloekombome indringers kan wees, is hulle baie belangrik as ‘n voedselbron vir ons inheemse bye. Die doel is om, deur goeie bestuur, bloekombome te behou as voedselbron vir ons bye. Grondeienaars moet die spesies en ligging van bloekombome op hul plase identifiseer. Dié sonder bloekombome kan dit oorweeg om sekere nie-genoteerde spesies (bv.E. ficifolia of E. gomphocephala) te plant waar hulle nie waterbronne bedreig of ‘n indringingsgevaar stel nie.

In ‘n eko-vriendelike tuin is daar nie plek vir insektedoders nie. Of dit nou ‘n kontakdoder of ‘n sistemiese middel is, los dit. Aan die begin sal dit dalk moeilik wees, want die natuurlike vyande sou lankal die wyk geneem het omdat daar nie kos is nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek insekdoders in my tuin gebruik het nie. Nou die oggend sit ek en luister na die voëlgeluide. Ek besef toe dis omdat ek nie meer gif spuit nie dat hier meer goggas is, en omdat hier meer goggas is, is hier meer voëltjies, want hier is genoeg kos om te oorleef en kleintjies groot te maak.

Wanneer daar insekte in jou tuin is, is daar liefde in die lug! In die insekwêreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.
Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei.
Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.

Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!

Drolpeer – Dombeya rotundifolia – foto vanaf Veldwagter
Halleria lucida langs ‘n ou stomp en Vuurpyle

Maar dit gaan nie net oor die gebruik van gifstowwe nie. Ons kan heelwat doen om ons tuine meer aanloklik vir die veervolk te maak. Daar is heelwat plante wat veral skoenlappers kan terug lok tuin toe, soos die Koraalboom (Erythrina lystemon), die Notsung, ook genoem Fuschia, (Halleria lucida), en die Drolpeer (Dombeya rotundifolia). ‘n Goeie keuse vir tussen klippe of op ‘n rotstuin is die Crassula perfoliata. Ander plante is die Sonbekkiebos (Metarungia longistrobus), Fynblaarrooihout (Ochna serrulata), en die Wilde-pynappel (Eucomis Comosa, Eucomis autumnalis en die Eucomis humilis).
Al die vuurpyle (Kniphofia) variëteite, Makhaya bella, Freylinia tropica, Juncus effesus en selfs die Varkoor wat hou van skaduwee en baie water.

Geniet die skoenlappers wat terugkom en onthou — ‘n ruspe is net ‘n skoenlapper wat nog nie vlerke gekry het nie!

– Sommige van die inligting vanaf ‘Kormorant’ 

My eie stukkie paradys

.

Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is…
Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
 Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie ‘n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis ‘n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. ‘n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.
Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek…
.
 .
::

Wanneer laas?

GardenPotWanneerLaas
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie. ……….. Hoekom nie?
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
01-girlporch1
Hoekom dit nie vandag doen nie?
::

Bulbine frutescens – Balsemkopiva

Tuinmaak is een van die groot plesiere van die lewe vir my. Om in ‘n stukkie grond rond te vroetel is hemels. En daar’s niks beter as die reuk van nat grond na ‘n lekker reënbui nie.

‘n Inheemse en pragtige en vrolike plant vir jou tuin wat oulike randplante, asook houer plante, maak is Bulbine frutescens of Balsemkopiva. Die plantjie groei maklik en alhoewel ek myne as saailinge gekoop het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie in die grond druk en omtrent drie weke later het jy ‘n nuwe plantjie.

Balsemkopiva plantjies benodig nie baie water nie, hulle is waterslim plante en hulle oorleef ook taamlike swaar ryp redelik maklik. Hulle kan oorleef op baie droë gebiede en hou van vol son. Boonop lok hulle ook baie bye en skoenlappers na jou tuin.

Dis ‘n eg Suid Afrikaanse plantjie met baie medisinale waarde. Die blaarsap word gebruik vir onder andere sere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope en insek bytplekke. Met tuinwerk is dit onvermydelik om soms skrape en steke op te doen, dan pluk ek sommer ‘n blaartjie (of stengel) en smeer die sap aan die wond. Dit is ook wonderlik vir koorsblare, aknee, brandwonde, skaafmerke, waterblase, gebarste lippe en gebarste vingerpunte.

Kom oorspronklik in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en dele van die Kaap voor. Die plant groei waar niks anders wil groei nie en is boonop droogte-, hitte-, lugbesoedeling- en rypbestand.

Ander name : geelkatstert, katstert, kankerbossie en, in die volksmond, ook as snotbossie, weens die slymerige jel tussen die blare.

.

My eie stukkie paradys

Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is…
Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
 Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie ‘n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis ‘n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. ‘n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.
Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek…
::