Dis ‘n stil, warm Sondagmiddag in die hotel op Klawer

Ink skets en waterverf op DalerRowney 200gsm sketspapier – Maree©
 .

Dis stil. Die vlaktes wens vir ‘n bietjie wind. Miskien selfs eendag ‘n flentertjie reën. Maar dis veertig grade en die son regeer soos ‘n genadelose diktator. Daar is nie ‘n siel op straat nie. Hier weet die siele al om weg te bly as dit veertig grade is. Hier weet siele instinktief om versigtig te wees vir warm plekke. Dis ‘n goeie ding om te weet. Ja, die siele kruip weg. Daarom dat die son vandag alleen op straat is. Niemand saam met hom nie. Want hy kan wreed wees, veral as jy net jou eie skaduwee het om in te skuil. Die ander skaduwees het al geleer, bly uit die strate uit. Hier kom jy eers ná donker uit. Kom doen jou ding in die maanskyn. Of miskien in die reën. Daar kom dalk eendag weer ‘n bietjie reën.

Dis stil. en dis warm. Die hotel wens heimlik vir ‘n rol in ‘n Wilde Weste-fliek. Hy oefen al jare. In die son. In die dorre son. En met die stories wat hy aand na aand in sy kroeg hoor en sien, weet hy hy is gereed. Hy ken die lewe. Hy ken al die hartseer stories. Die manne kom. En hier kom praat hulle. Die wat nie stil is nie. Want hulle kom sit eenkant. En hulle vertel hul stories sonder om te praat. Dis hoe dit hier is.

(Uittreksel uit “Laaste sê” deur Koos van der Merwe in die Junie 2012 uitgawe van Sarie tydskrif, Suid Afrika)

.

Au, sorry oumies!

Vanoggend sit ek voor my lessenaar besig om ‘n paar verjaarsdagkaartjies te ontwerp en ek dink, “Maree, jy word oud!” Dit na aanleiding van die feit dat ek myself verlede week half disnis in die tuin geval het en amper my stuitjie gebreek het.

Oud word is nie ‘n gedagte wat ek OOIT koester nie. Dis nie iets waaroor ek ooit dink nie. Seker omdat ek op amper-sewentig min skete het en omtrent nooit siek word nie, kannie onthou wanneer laas ek ‘n verkoue gehad het nie. En ek voel nog dieselfde as wat ek op dertig of veertig of vyftig gevoel het.

Behalwe vir die feit dat ek nie meer so rats is as wat ek eens op ‘n tyd was nie. Kannie meer die boom klim om die uil-nesbokse op te sit nie, kannie meer so fluks ‘n hoender jaag en vang nie en kan ook nie meer oor die lae muurtjie agter die huis spring as ek ‘n kuiken in nood hoor nie.

Die stuitjie-storie het gebeur omdat ek tussen ‘n klomp blomme in die tuin gestaan het waar ek en Chrissie besig was om ‘n paar plantjies te plant. Toe ek versigtig, sodat ek die blommetjies nie vertrap nie, agteruit tree om uit die blomme te kom, toe hak my voet agter ‘n klip vas en slaat ek soos ‘n os neer, bo-op ‘n hoop klippe, reg op my stuitjie.

Die vernedering was erger as die pyn! En die uitdrukking van verskrikking op Chrissie, my tuinhulp, se gesig het my vinnig laat opspring om haar te paai en te verseker dat ek OK is. Sy konnie genoeg “Au, sorry oumies, sorry oumies” sê nie en ek moes haar omtrent ‘n glas water gee vir die skok. Weet nie wie het groter geskrik nie, ek of sy!

Ek het die huis binne gestrompel en onmiddellik my Arnica-olie gesoek en aangesmeer maar ek het geweet die groot pyn gaan daardie aand kom. En dit het. Kon nie sit nie, kon nie op my rug lê nie, kon skaars beweeg. Maar na ‘n lekker warm bad het ek uiteindelik aan die slaap geraak en gehoop dat dit die volgende dag beter sal wees.

Dit het ‘n paar dae geneem en ek is nou amper volkome herstel, maar met ‘n nuwe besef van hoe verganklik die lewe is. Mens hoor so baie van “ou” mense wat val en ‘n heup of iets breek. Ek kan nog steeds nie glo dat ek so gelukkig was as om amper skotvry daarvan af te kom sonder enige nagevolge nie.

En een ding is seker, iets wat jy NIE van my gaan hoor is dat ek uit ‘n boom geval het nie!

. 
 

Wat het jy gister gedoen…?

… wat het jy gister gedoen wat die moeite werd is om te noem?
::
Ek het baie gedoen. Ek moes vroeg buitentoe gaan om te sien hoekom die hoenders so tekere gaan en het toe gesien hoe die son opkom agter die bome op die onderkant van ons plot. Dis min dat ek in die winter so vroeg buite is en dit was rééds op my lysie van dinge om te doen, om weer ‘n sonsopkoms te aanskou.
Op pad terug het ek op hierdie veer afgekom en natuurlik moes ek gou die kamera gaan haal. Hulle sê mos dis ‘n ‘blessing’ om op ‘n veer af te kom en ek het sommer gewéét dat my dag spesiaal gaan wees! Nog in my pajamus het ek met my stomende koppie koffie op die stoep in die koue gesit en myself verwonder oor die voëltjies wat van vroeg af al so vrolik die dag begroet. Hulle het niemand om hulle te versorg nie (wel, nie heeltemal Niemand nie, maar jy weet wat ek bedoel) en tog, het jy al ooit een gesien wat nie gelukkig lyk nie? Ek het nog nie. Op die koudste dag van die winter gaan hulle aan met die lewe, kla nooit nie, gee nooit op nie, verwag niks meer nie, gelukkig om die son te sien opkom, om te kan vlieg.
Mooji se aanhaling kom tot gedagte : “Leave your existence to existence, stop caring for yourself so much and let the universe care for you; it is the best mother. There has to be some trust, not just belief, because trust is intimate… The very letting go will be observed in your presence.”

En so het my hele dag voort gegaan, een wonderlike openbaring na ‘n ander en ‘n diepe dankbaarheid dat ek hier is om dit alles te ondervind…::

Hoekom verskoning maak?

Ek wonder partymaal hoekom mense verskoning maak wanneer hulle vir ‘n lang ruk nie geblog het nie. “Oh dear, the old blog has been somewhat neglected over the past few weeks and I need to catch up with what all you bloggers out there are doing too.  Anyone else out there like me and need more hours in the day?”

Ek glo nie eers daar is iemand wat dit agterkom nie. Mens wonder dalk, “wat het van so-en-so geword, lanklaas iets van hulle gelees?” en dan, wanneer hulle weer iets skryf, lees jy dit met lekkerte maar kannie noodwendig onthou dat hulle drie of ses maande laas iets gepubliseer het nie.

Verskoning maak is al so afgesaag. Soos hierbo gesê, “anyone else out there like me and need more hours in the day?” Ek dink nie dis ‘n geval van dat mens nie tyd het of meer ure in die dag nodig het nie. Dis net ‘n geval van dat mens nie meer so entoesiasties oor die gebloggery is nie.

Wanneer ‘n mens ‘n nuwe blog begin, is jy begeesterd, met baie idees, foto’s en gedagtes wat in jou kop rondmaal en dan is dit lekker om elke dag of ‘n paar dae ‘n week te blog, maak nie saak HOE besig jy is of hoe min tyd jy het nie, jy maak tyd, jy pas dit in jou skedule in. Maar dalk na twee of drie jaar is jou idees en gedagtes uitgeput, of het jou belangstellings verander, en begin dit al hoe meer na werk lyk en voel jy skuldig dat jy dit so verwaarloos.

So daar is twee opsies – ‘dump’ die skuldgevoel en blog net wanneer jy lus is, sonder enige verskonings, ek is seker jou lesers sal jou nie stenig nie, óf gooi die handdoek in en moenie meer blog nie. Daar is niks so erg as om iets te doen waarvoor jy nie lus is nie.

.

Saterdaggedagtes

‘n Hittige Saterdagoggend hier in Tarlton (Gauteng, Suid Afrika) en vandag…
wil ek graag ‘n mooi gedig of boek lees
wil ek graag ‘n mooi prentjie sien
wil ek graag inspirerende musiek luister
wil ek graag iemand merkwaardig ontmoet
wil ek graag ‘n paar verstandige woorde sê

en

wil ek graag my motorhuis regpak

::

Vandag voel ek so…

… glad nie lus om uit my gemaksone te klim nie. Vandag voel ek net lus om hier in my gemaklike plekkie te sit, te sit en rus en net alles om my waar te neem.

Vandag was ek veronderstel om te werk. Met werk bedoel ek opvang met al daai uitstaande goedjies wat so ‘nag’ in die agtergrond – liassering, goeters reg pak, my ateljee wat só deurmekaar is bietjie opknap, die UIF doen, al die e-posse antwoord, nuwe gras in die hoenders se nesbokse sit en dalk ook ‘n bietjie in die tuin rond te krap.

Maar hier sit ek nou, besig om te skilder en ook hier op my blog te pos. Dinge te doen waarmee ek gemaklik en gelukkig voel. My pa het twee gesegdes gehad, “Moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie” en ook “Môre is nog ‘n dag.” Vandag voel ek so – môre is nog ‘n dag.

::