Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie

BlyKalmEnGesondWildDog

Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie! Het jy geweet jy kan met tee en koffie skilder? Tee (swart) gee ‘n lieflike ligte agtergrond vir die skildery en koffie (swart en sterk! Ek gebruik Nescafé kitskoffie) gee die pragtigste ryk en glansende donkerbruin skakerings.

Gebruik ‘n goeie gehalte waterverf papier (ek gebruik meesal Bockingford 300gsm, dis dik en frommel nie maklik wanneer dit nat word nie). Maak ‘n koppie sterk, swart tee en laat afkoel. Gebruik ‘n taamlike groot verfborsel en bedek die hele bladsy met die tee. Sodra dit droog is, kan jy begin met die koffie. Ek skets gewoonlik my prentjie eerste, die tee bedek nie die lyne nie.

Verf dan met jou koffie ‘n stuk donkerder agtergrond (jy kan die tee-agtergrond bo links in die skildery sien uitsteek) en verf dan jou skets met die koffie waar jy gewoonlik al die kleure sou sit. Maak seker jou eerste hale is donker genoeg, die koffie hou nie daarvan om weer bo-op geverf te word as dit eers droog is nie.

Eksperimenteer ‘n bietjie met die tee en koffie voor jy jou skildery aanpak. Verf koffie op koffie terwyl dit nat is, verf koffie op koffie wanner dit droog is, dan kan jy die verskillende effekte waarneem.

Geniet en wys vir ons wanneer jy klaar is!

Advertisements

‘n Bottergat in my Moeraseik

Bottergat

’n Bottergat (Blackeyed Bulbul – Pycnonotus barbatus) in my Moeraseik (Quercus palustris) – hierdie oulike tuinvoëls word gevind vanaf Arabië tot in die Kaap, Suid Afrika, en hulle is deel van my tuin soos my plante self – sonder hulle gereelde geselsery sal dit maar stil wees hier rond. Hulle is ook een van die heel eerstes wat my vroeg-oggend uit die bed jaag en aankondig dat ’n nuwe dag begin het.

Bottergat2

En die dag as ‘n klomp van hulle almal skree en kwetter kan jy verseker weet daar is iets in die tuin wat nie hulle goedkeuring wegdra nie, soos dalk ‘n slang. Menigmaal is ek gewaarsku dat daar ‘n Rinkhals is of sommer net Mollie, ‘n Molslang wat gereeld my tuin besoek. Hulle het ook nie veel van my skilpad, Torti, gehou nie en het gereeld op ‘n tak bokant haar plaas geneem en hulle onvergenoegdheid uitgespreek deur heen en weer te spring, van tak tot tak, om almal te laat weet alles is nie wel nie. Hulle hou ook niks van die Mynah’s nie, en sal almal ook waarsku dat hierdie kwaadwillige kerjakkers ook nou in die tuin is.

BullBull+in+PinOak.02

‘n Nuuskierige Bottergat wat my dophou om te sien wat ek op die voertafels sit.

Die paartjie in my tuin het al ‘n paar seisoene kleintjies in my tuin groot gemaak en die jonges bly langer by die ouers as bv. Jan Fiskaal se kinders, so soms is daar sommer 6 of 10 Bottergatjies in my tuin, almal besig om te bad of te raas of om die voertafels te besoek.

Rooiborsduifies

Een van my gunsteling tuinvoëls – die Rooiborsduifie. Hulle roep is ‘n sagte, rustige frase note wat laag begin, hoër styg en dan weer afwaarts borrel.

Die rooiborsduifie (Streptopelia senegalensis ) is een van drie gryserige duiwe wat almal redelik algemeen in Gauteng-tuine voorkom.

Die maklikste manier om dit te onderskei van die ander twee – die gewone tortelduif en die grootringduif – is dat die rooiborsduifie nie ‘n swart ringetjie om sy nek het nie. Die rooiborsduifie is ook die kleinste van die drie en die een met die sterkste pienk skynsel.

Daar is verskeie ander name wat mense vir rooiborsduifies gebruik, soos lemoenduifies en lagduifies (na aanleiding van die Engelse laughing dove ). Die amptelike Afrikaanse naam verwys na die fyn pienkrooi veertjies en kolletjies op die bors wat duidelik sigbaar is. ‘n Mens moenie by dié naam dink aan ‘n tamatierooi nie.

Rooiborsduifies is saadvreters en ‘n mens hoef net ‘n handvol saadjies of selfs broodkrummels iewers op die grond te strooi om hulle en ander saadvreters na jou tuin te lok. Baie saadvoerders wat druk deur kleiner voëltjies besoek sal word, werk nie goed vir groter voëls soos die rooiborsduifie nie. Hulle wei liefs op die grond.