Dankbaar vir droomdae…

“Albasini-dam” waterverf op Bockingford 300gsm
.
Herinneringe kan niemand ooit van ’n mens wegvat nie. Uit die oorvloed herinneringe wat elke mens in sy hart ronddra, put ons daagliks baie plesier. Klein onthoudingetjies van geliefde persone wat nie meer by ons is nie is soos helderbont krale in ’n halssnoer en ons dra dié onsigbare halssnoere daagliks met ons saam.
 .
Ek is in Johannesburg gebore en was in Gr.I en II in Gauteng op skool. Toe het ons Pietersburg toe getrek waar ek St. I & II geslaag het. Ek moes seker toe so nege of tien jaar oud gewees het. Ons het in Pleinstraat gewoon – dis hier waar my liefde vir diere en die natuur begin het.
.
My pa het dikwels huistoe gekom met een of ander diertjie: ’n trapsuutjie, ’n meerkat, selfs slange, krimpvarkies, beseerde voëltjies, wilde katjies. Eenkeer het hy selfs ’n pasgebore witstinkmuishond wie se ma deur ’n kar doodgetrap is, aangedra huistoe. Dan het ek die arme diertjies opgepas en met my pa se hulp weer gesond gekry (meestal met die hulp van boererate) en weer in die natuur vrygelaat.
 .
Nie alle reddingspogings was altyd ewe geslaagd nie. Ek onthou toe ’n krimpvarkie wat ek vir drie weke liefdevol gedokter het (die honde het hom bygekom en sy hele neus en mondjie afgekou) tog nie oorleef het nie en my pa my tussen my snikke deur getroos het. Hy het gesê het dat die natuur wreed kan wees maar dat dit ’n feit is wat ons maar altyd moet onthou. Ons moet maar net ons bes doen. Daarna was daar nog altyd hartseer wanneer ons ’n diertjie verloor het, maar ook aanvaarding en berusting dat sulke dinge wel gebeur. Hy het my ook geleer dat mens nie onnodig met die natuur moet inmeng nie en, waar moontlik, dinge aan Moeder Natuur moet oorlaat.
.
Ek het baie saam met hom rondgery en dan het ons gaan visvang. My ma het vir ons ‘n heerlike mandjie vol lekkernye gepak – vars, tuisgebakte brood, koue aartappels met hulle skille aan, gekookte eiers, frikkadelle en ’n fles vol heerlike koffie. My pa het die babers wat ons gevang het skoongemaak en in groot ronde ’steaks’ gesny en op die kampvuur gebraai, ’n heerlikheid!
.
Albisinidam was een van ons gunstelingplekke. Ons het altyd baie seekoeie daar gesien en kon ek na stories luister van wat hierdie dier so spesiaal en gevaarlik maak soos die feit dat hulle ons waterweë skoon en oop hou en vloei verseker vir al die ander diere. My pa het altyd gesê ’n seekoei in ’n slegte bui is gevaarliker as ’n renoster! Ek onthou nog so goed die storie wat my pa ons vertel het oor hoe hy en sy maats gaan visvang het en een nag bo-op die bakkie se dak moes deurbring a.g.v. ’n onvergenoegde seekoei wat net niks van die kampvuur gehou het nie!
.
Langs dié waters het ek my eerste sketse begin doen terwyl ons gesit en visstokke dophou het – my pa het altyd blomme, blare en takke gepluk. Hy het ’n wonderlike kennis van plante en die veld gehad. Ek het al sy stories daaraan verbonde: waarvoor dit gebruik is deur die Pedi’s, vir watter siektes en ongesteldhede, met groot belanbgstelling aangehoor. Dan het ek nota’s gemaak en sketse gedoen.
.

Ons het ook insekte opgespoor: sprinkane, miere, skerpioene, motte en spinnekoppe. Dis toe dat ek geleer het om nie bang of grillerig te wees nie, want as jy iets moes vang moes dit VINNIG gebeur, anders is die oomblik verlore!

.

Twee Kremetart-peule wat oranje geverf is langs ‘n ou stomp en ‘n versameling speolklippe
 .

Op ons uitstappies het ons altyd halt geroep by kremetartbome en die kremetarte bymekaar gemaak om huistoe te vat. Ons het ook maroelas bymekaar gemaak en haastig in die kar gespring wanneer die bobbejane opdaag om hierdie lekkernye te kom geniet. Ons het vir ure in die kar gesit en lag oor hulle mannewales – die oorryp vrugte wat begin gis het, het ’n alkoholiese uitwerking op hulle gehad en dan het hulle rondgeslinger soos wafferse dronk mense!

 .
 My Ma het konfyt gekook van die maroelas. Ek het NIKS daarvan gehou nie! Maar ons MOES ’n paar teelepels vol eet, dis goed vir ons het my pa altyd gesê… en om die smaak van die kasterolie, wat ons elke Vrydagaand moes drink, weg te vat.
Ons het ’n kanariehok gehad in Pietersburg met die pragtigste kanaries – geles, pienkes, rooies (dié kleure is verkry deur iets wat by die drinkwater gevoeg word) en party met wilde haarstyle, vere wat penregop op die kop gestaan het of plat gedruk was soos ’n pannekoek! Een van die dinge wat my pa die meeste ontstel het was die miere! ROOImiere wat teen die hok opgeklim het en die pasgebore voëltjies aangeval en doodgemaak het. Die hok het op stelte gestaan. ’n Boer maak ’n plan – konfytblikke gevul met water onder elke poot en siedaar! Geen mier kon meer die voëltjies bykom nie!
.
Ons buite-yskas was ’n houtkas met dubbeldraad, gevul met steenkool en waardeur water permanent gevloei het. Dit het ons eiers, melk, botter en ander eetware perfek koel en vars gehou. Dié yskas het ek en my pa self gebou en dit het my geleer dat NIKS onmoontlik is nie – waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.
.
Ons het ook ’n groentetuintjie gehad en ons kon ure daar deurbring – slaaikoppe, kool, wortels, tamaties, groenboontjies, uie, beet en ertjies, selfs ’n paar blommetjies soos Kappertjies en Afrikaners. My pa het geglo dit hou die goggas weg. Hy het my geleer dat gifstowwe onnodig is en dat alle hulpmiddels in die natuur te vinde is. En my ma kon tóór met daardie groente! Tot vandag is groenboontjies met uie en aartappels een van my geliefkoosde disse.
.
As iemand my sou vra of ek my lewe sou wou oorhê, sal ek beslis ‘ja’ sê, veral daardie wonderlike dae in die Noord-Transvaal en die dankbaarheid wat ek in my hart voel vir die oorvloed herinneringe wat dit my besorg het.
::

Bosveld gedagtes

Foto geneem by Thaba Monaté naby Bela-Bela gedurende ‘n besoek ‘n paar jaar gelede
Gedagtes van die bosveld, skone velde en natuurskoon wat die hart laat rustig verkeer. Drome van vlaktes en wild en vryheid. Van voëls en anderse bome. Dis waar my gedagtes deesdae is.
Ons bly al dekades op ons kleinhoewe in Tarlton en toe ons in die mid-70’s hierheen verhuis het, was ons die enigste inwoners vir myle. Maar stadig oor die jare het vooruitgang sy tol geneem en is ons nou deur mense omring aan alle kante. Al die inheemse bome is afgekap om plek te maak vir ‘n huis, die tarentale is nêrens meer te sien nie en die uile is skaarser as hoendertande.
Ons is geleë op die hoofpad tussen Krugersdorp en Magaliesburg op pad na Botswana en destyds was dit maar net ‘n smal, swak-geteerde teerpad met min verkeer. Maar dit is al 3 of 4 maal opgegradeer as gevolg van al hoe meer verkeer en dit klink deesdae soos Eloffstraat op ‘n Saterdagoggend en dreun enige natuurlike klanke heeltemal uit.
Nou hunker my hart na die verte van die bosveld, weg van mense, weg van die verkeer en weg van die beskawing.
Maar dalk is ek net vandag in ‘n slegte bui, dalk is ek net ondankbaar vir al die seëninge wat ek wel het, dalk is dit net Sondagmiddag hunkeringe – miskien voel ek môre beter…
Om die kampvuur by Thaba Monaté
::
Bokant alle hange
is rus,
loerie se gesange
vaak gesus,
net soos die wind
wat loom sy lê in kriebos kry;
wag net, ook jy
sal gou rus vind!
—Verafrikanisering deur Dugeot van die Duitse digter Goethe se “Über allen Gipfeln”
Sonsondergang oor die Waterberge – Foto geneem deur Rudi Janse van Vuuren©
::