Die winter is verby

Geínspireer deur een van Cathy Johnson se sketse

Na die koue, lang winter, is dit tyd dat die natuur weer lewe kry. Die kort dae is nou langer en die perskebloeisels en groen gras begin oorneem. Van Lente was daar omtrent geen sprake nie en nou is dit Somer. Somer is buite-wees tyd. Sorgelose ure. Lang slenterstappe in die skemer se soeltes en ‘n braai onder gesellige sterre. Somer is groei – my kappertjies wat begin blom, vinkneste word gebou, klein voëltjies wat leer vlieg.
Somer het ook sy slegte kant. Dis ‘n tyd van lastige vlieë en muskiete, veral muskiete wat my hoenders byt en hoenderpokkies veroorsaak. Ek haat gifstowwe, maar vir muskiete en rotte het ek geen genade nie. Baie maal styg my irritasie vlakke saam met die temperatuur – enige iets hier oor 28℃ en ek sluit myself toe in my ateljee met die lugverfrisser op ‘n sterk 16℃. Stappies in die veld word gereël vir vroeg-oggend of skemer en die strand besoek ek net in die winter, wanneer die temperatuur gewoonlik so ‘n matige 23℃ is.
Maar somer is hier en ek verlustig my tóg in die heerlike warm weer, die lewegewende reëns and Moeder Natuur se skouspelagtige landskappe wat sy in somer optower.
::

Koebaai aan die winter

‘n Laaste koebaai aan die winter wat nou agter die rug is hier in Gauteng – op die oomblik beleef ons hittige somerdae, lente was sommer maar net ‘n geruggie wat gou verby gevlieg het. My perskeboom het te midde van al die koue pienk botsels uitgestuur en toe sommer, voordat die bloeisels behoorlik oop was, haar groen blaartjies die somer laat verwelkom.

Ek hou van die winter, maar Lente is eintlik my gunstelingseisoen – heerlike middelmatige dae, groen wat oral in die landskap verskyn en reën wat verligting bring vir al ons fauna en flora.

(Waterverf op Bockingford 300gsm – Maree)

Ons was hierdie winter nie so gelukkig nie, ons plot het nie die verwoestende veldbrande vrygespring nie en alhoewel ons die nodige voorbereidings getref het, was die gras baie droog en die Augustus winde (eers in September gekom!) het saam gespeel om die vlamme die hele plot vol te blaas. Nou sien ek net uit na die reëns wat maar net nie wil kom nie…

.