My eie stukkie paradys

.

Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is…
Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
 Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie ‘n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis ‘n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. ‘n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.
Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek…
.
 .
::
Advertisements

Elke nuwe oggend

Die woorde hier bo is ou bekendes en tog, elke nuwe oggend IS inderdaad ‘n plek waar ons nog nooit voorheen was nie. Jy maak jou oë oop en het g’n idee wat voorlê nie – oneindige moontlikhede – dalk wen jy die Lotto vandag of kom kuier ‘n geliefde vriendin. Maak nie saak hoe jy jou roetine stel nie – jou eerste koppie koffie, jou afsprake en planne vir die dag – daar is altyd die moontlikheid van iets nuuts, iets fenomenaal, iets verbasend wat kan gebeur.

Ek wens jou ‘n pragtige sonneblom-Sondag.

::

Heuning en Laventel haarbehandeling

Daar is nie ‘n vrou op aarde wat nie behep is met haar hare nie. Baie min van ons is honderd persent tevrede met wat ons het – ons hare is óf te krullerig óf te reguit óf te dun óf te dik en onbeheerbaar, óf te vaal en so gaan ons aan. En tydskrifte en TV advertensies en die internet is vol van rate en middels wat veronderstel is om te help.
So hoe besluit mens watter raad om te volg of watter middels om te koop? Ek persoonlik dink dat een sjampoe of haaropknapper maar dieselfde is as die ander. So waarom dan nie maar iets uit die natuur probeer nie? Ons voorouers het vir dekades sonder al die fênsy goeters van apteke en supermarkrakke klaar gekom en ek weet daar was NIKS met my ma of my Ouma se hare verkeerd nie!
Hier volg ‘n lekker resep vir ‘n natuurlike haaropknapper wat ek gereeld gebruik, en dit werk baie goedkoper uit as Tresemmé!

Haaropknapper :

Meng 2 eetlepels heuning met ‘n halwe vars avokadopeer, 1 teelepel klapperolie en ‘n paar druppels laventel (essential) olie, nie gewone laventelgeursel nie. Masseer in jou hare in en los vir ‘n half-uur. Werk uitstekend vir droë en beskadigde hare.

Laventel word al byna 2 000 jaar lank vir mediese doeleindes gebruik. Party laventelolies, veral Lavandula angustifolia, het ’n uitwerking op ’n hele paar soorte bakterieë en swamme. Sommige navorsers het aan die hand gedoen dat laventelolie nuttig kan wees vir die behandeling van bakteriese infeksies wat bestand is teen antibiotika.
(Inligting vanaf ‘Wagtoring’)

.

Groener weivelde

“To exist is to change, to change is to mature, to mature is to go on creating oneself endlessly.” 
– Henri Bergson

Dis snaaks hoe ‘n mense se smaak verander oor die jare. Wat jou ‘n paar maande terug geïnteresseer het, is skielik nie meer so oulik nie. Ek is ‘n groot aanhanger van waterverfskildery-blogs, maar skielik is skilders aan wie se kwasse ek letterlik gehang het, vervelig en vaal. Dieselfde ding oor en oor en oor, g’n groei of verandering of verbetering nie. Is dit hulle, of is dit ek?

Ek is definitief ‘n liefhebber van my roetine en lief dit as my dag mooi glad verloop, maar ek raak gou ontsteld as dinge vervelig begin raak – my roetine moet elke dag iets nuuts insluit, al is dit net om my koppie koffie te verruil vir ‘n warm sjokolade.

Ek lief dit om myself met inspirasie te omring, dis asof ek die lewe inteug daardeur. Maar dis nie altyd ‘ander mense’ wat te blameer is nie – wanneer jy self groei is dit vanselfsprekend dat dít waarin jy geïnteresseerd is gaan verander, dat jou fokus gaan verskuif en dat jy ‘groener weivelde’ gaan soek.

Ek is nie juis veel van ‘n kok nie, hou nie juis daarvan om te kook nie, maar deesdae vind ek myself al hoe meer geïnteresseerd in resepte. Maar maklike, flatervry resepte. Bobotie is te ingewikkeld vir my. Ek het nie tyd of lus vir fênsie en moeilik-bekombare bestanddele nie. Ek en my man is albei eenvoudige eters – rys, vleis en aartappels, sê ek altyd. En slaai. En groente, baie groente. En rys. Ek kan ‘n hele bak rys net so plein opeet sonder om tweemaal te dink!

Nou die dag was ek vroeg vir my haarafspraak en reg langs die haarkapper was ‘n Oceanbasket-restourant. Ek eet nie juis vis nie, maar het besluit om in te gaan vir ‘n koppie koffie en terwyl ek so deur die spyskaart geloer het, het ek gesien hulle bedien rys as ‘n “side order”. Dis net die ding waarvoor ek lus is, dink ek, en dis net R17! So ek bestel toe ‘n porsie en dit wat opgedaag het, bedien in ‘n groot braaipan, was genoeg om die weermag te voer! Maar hoe heerlik! Bietjie botter bo-op en ek het die hele lot klaar gemaak!

So ja, groener weiveld, ek is op pad!

.

Wit rose en souttert

Ek is MAL oor souttert!
Ek lief wat ek hier en hier sien.
Ek lief om hier stories te lees, dis inspirerend, interessant.
Grote griet! Ek wil alles in hierdie Etsy-winkel hê!

Is almal se lewens altyd rooskleurig en mooi? Ek glo nie so nie, myne is nie en ek stem saam met hierdie blogger.

Ek hoop jy geniet hierdie warm somersdag saam met familie en vriende. Moenie bang wees om jouself te wees nie. Moenie bang wees om te sê wat jy dink nie. Glo waarin jy glo en asseblief, doen dit waarvoor jy lief is!
::