Hou insekte weg met kruie

 (Foto vanaf WikiCommons)

Somer is insektyd! Moenie my misverstaan nie – ek is vreeslik lief vir insekte, hulle is die natuur se wonderwerke, maar daar is twee of drie insekte waarvoor ek GEEN tyd het nie – muskiete, vismotte en vlieë! Ek gaan tot die uiterste punte van die aardbol om van hulle ontslae te raak – gifbolle, plakkies, my hande – enigiets behalwe chemiese insekdoders en spuitmiddels wat ek glad nie eers in my huis aanhou nie. Alhoewel, ek moet sê, ek was al so desperaat oor muskiete dat ek AMPER al ‘Doom’ gekoop het!

Maar daar is darem hoop vir hierdie peste direk uit die natuur. Een van hulle is Laventel – ‘n wonderlike plant om in jou tuin te hê. Behalwe die feit dat dit pragtig blom en heerlik ruik, is daar soveel dinge waarvoor dit gebruik kan word. Ek het op hierdie oulike insekweerder resep afgekom van Naomi op suidersterre.co.za

Bestandele
Droë laventel takkies met blommetjies.
Wit asyn.

Metode 
Breek die blommetjies van die laventel takkies af en gooi in `n bottel. Gooi dan genoeg wit asyn in die bottel om die blommetjies toe te maak en die bottel vol te maak. Laat staan eenkant vir twee weke om te trek. (Ek sit sommer van die takkies ook by wanneer ek myne maak.)

Gooi die mengsel deur `n lap om die aftreksel te kry.

Gebruik `n stukkie watte of `n kurk prop om die mengsel op die areas te plaas waar jy die muskiete wil weghou.

Laventel kan ook self opgehang word om insekte weg te hou. (Bind dit vas met ‘n mooi pers lint en hang aan jou bed se kopstuk.)

Almal van ons sukkel maar van tyd tot tyd met lastige insekte in en om die huis. Maar om op ’n natuurlike manier van dié plae ontslae te raak, is nog die beste. Ek het op hierdie rate op die internet afgekom so sorg dus dat dié rate altyd byderhand bly:

 Pietersielie

• Sprinkel pepermentolie vir insekte in die huis.
• Gebruik pietersieliesap of gekneusde pietersielieblare om lastige insekte weg te hou.
• Vars óf gedroogde koljander ontmoedig insekte.
• Gedroogde gousblomblare, gemeng met kakiebos, is ’n uitstekende insekweerder.
• Sit droë salieblare in jou kaste om insekte uit te hou.
• Prakseer ’n doeltreffende inseksproei uit vlierblaaraftreksel.
• Hang sakkies droë koorskruid in jou kaste.
• Maak ’n insekweerder van kappertjiesaadaftreksel.
• Kneus marjoleinblare om insekte af te weer.
• Gooi takkies roosmaryn op die kaggel of braaivleisvuur.
• Maak ’n inseksproei van ’n gekneusde knoffelhuisie, ’n klein, gekapte ui, 1,25 liter water en 12,5 ml skottelgoedseep. Laat ’n uur lank trek voor gebruik.
• Plant sitronellamalvas, laventel en salie, of inderdaad enige plant met ’n skerp geur.

.

6 thoughts on “Hou insekte weg met kruie

  1. Terug pieng: Hou insekte weg met kruie — Net nog ‘n paar gedagtes 💕 | Die Wit Hasie

  2. Ek moet inderdaad die laventel-vir-muskiete resep uittoets. Die muskiete dra ons lewendig weg en ek kan nie die reuk van Doom verdra nie, selfs nie as dit sogenaamd “odorless” is nie. Ons sprinkel pepermentolie in die water waarmee ons die vloerteëls mop om miere weg te hou. Dit dien sommer as afskrikmiddel vir vismotte ook.

    Liked by 1 person

Los 'n kommentaar, ek hoor graag van jou!