Wag net, ook jy sal gou rus vind

Bokant alle hange
is rus,
loerie se gesange
vaak gesus,
net soos die wind
wat loom sy lê in kriebos kry;
wag net,
ook jy
sal gou rus vind!
—Verafrikanisering deur Dugeot vanaf die Duitse digter Goethe se “Über allen Gipfeln”

.

Die wonder van die internet

Foto vanaf Pinterest
.
Is jy nie net ook mal oor blogs nie? Die internet het SO ‘n wonderlike plek geword, vol pragtige woorde, foto’s, idees en gedagtes. Hier is ‘n paar interessante dinge wat ek op die internet opgetel het.
.
Ek het nou die dag gehoor iemand sê Pinterest gaan blogging doodmaak!
Waar kan mens sulke wonderlike hoenderkos vir mens se hoendertjies koop hier in Suid Afrika?!
Pragtige dekor-idees.
Ek is mal oor Rachel Ashwell se “Shabby Chic”.
Goeie advies en mooi foto’s oor tuinmaak in Suid Afrika.
Emma se storie omtrent haar gewig
.

Is ons Afrikaners verbeeldingloos?

.

Hoekom is dit dat, wanneer ek mooi woorde soos oorvloed, inspirasie, liefde, hoop, seëninge en nog vele ander in Afrikaans Google, ek net op bladsye en bladsye vol bybelverse en troufoto’s afkom? Die woord ‘Inspirasie” neem my na ‘Trou inspirasie’, ‘ons daaglikse seëninge’, ‘inspirasie oor gebede en geloof’, ‘inspirerende boodskappe van god’ en ‘christelike inspirasie’ en daar is omtrent nie ‘n artikel wat nie na een of ander bybelvers verwys nie. Waar is al die mooi inspirerende aanhalings in Afrikaans? Vir die woord ‘oorvloed’ kry ek (behalwe my eie webwerf “OORVLOED”) bladsye en bladsye vol bybelse aanhalings, maar niks wat die woord “abundance” uitbeeld nie. Dieselfde met liefde, hoop en seëninge.

.

Is ons Afrikaners so verbeeldingloos dat ons oor niks anders behalwe geloof en die bybel kan skryf en dink nie? (“Geloof” (belief) is nog ‘n woord wat ALLEENLIK net met die bybel te doen het as jy dit Google.) Of is ons Afrikaners so behep met geloof dat ons in geen ander rigting kyk nie, oor niks anders kan skryf of niks anders in die lewe kan ondervind nie omdat dit ons dalk op een of ander manier sal aantas of besoedel?

.

Ek soek na die mooi in Afrikaans, mooi en inspirerende artikels om in Afrikaans te lees oor oorvloed en inspirasie en hoop – maar blykbaar word hierdie woorde net in ‘n bybelse konteks gesien. Glo Afrikaners nie dat ons in oorvloed (abundance), met baie geld EN geluk, kan leef nie? Glo hulle nie dat oorvloed, in die vorm van geld en aardse besittings, ons geboorterg reg is nie?

.

Die verbeeldingloosheid gaan ‘n tree verder met die woord ‘heelal’ (universe). Behalwe vir ‘Mej. Heelal’ en bladsye en bladsy vol wetenskaplike beskrywings, is daar omtrent nie ‘n enkele inspirerende artikel oor daardie woord nie. Of is die woord ‘heelal’ dalk nie deel van ons Afrikaanse denkwese nie?

.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek kraak glad nie enigiemand se geloof hier af nie. Ek glo in vrye denkwese en vryheid om enige geloof wat jy wil na te volg. Ek praat van verbeeldingloosheid in ons skryfsektor aangaande hierdie spesifieke woorde. Daar is baie ander woorde ook – meester, duiwel, verlossing, skep of skepping (create, creation), self liefde en affirmasie (‘n anglisisme vir Affirmation) en ek kan aan en aan gaan.

.

Ek weet Google gee mens resultate gebaseer op jou soek-geskiedenis en ek weet daar is mooi Afrikaanse artikels hier êrens op die net, maar definitief nie onder die woorde wat ek hier bo genoem het nie…

::

.

Laat daar altyd blomme in jou lewe wees… dit laat jou beter voel

Veldblommetjies op ons plot

“If you have two pennies, spend one on bread and the other on flowers. The bread will sustain life. The flowers will give you a reason to live.”

 

Daar is altyd blomme vir diegene wat dit graag wil sien. Al sal dit party dae moeilik gaan, moet jy steeds die mooi en goeie dinge in jou lewe raaksien en waardeer.

 

Sodra ek net ‘n bietjie ontsteld voel, gryp ek gewoonlik na my skilderkwas, maar gister het ek die natuur nodig gehad. Ek het laat-middag my kamera gegryp en koers gekies veld in. Die reuk van die nat gras na die vorige aand se heerlike reën, die warm sonnetjie op my skouers in die koue en die geswiep van die gras teen my bene het my onmiddellik beter laat voel.

 

Oral was daar reëndruppels wat in die sonlig geskitter het en die mooiste veldblommetjies wat tussen die gras weg gekruip het. ‘n Paar patryse het vinnig in die paadjie voor my tussen die gras verdwyn asof hulle nooit eers daar was nie en die Diederiks Cuckoo se weemoedige geroep in die Bloekombos het my nader gelok, maar dié outjie is gans te geheimsinnig om ‘n foto toe te laat. Ek het lank gestaan en luister voor ek die paadjie weer huistoe gevolg het.

Ek het beter gevoel, want daar is blomme in my lewe…

 

::

Vandag voel ek so…

… glad nie lus om uit my gemaksone te klim nie. Vandag voel ek net lus om hier in my gemaklike plekkie te sit, te sit en rus en net alles om my waar te neem.

Vandag was ek veronderstel om te werk. Met werk bedoel ek opvang met al daai uitstaande goedjies wat so ‘nag’ in die agtergrond – liassering, goeters reg pak, my ateljee wat só deurmekaar is bietjie opknap, die UIF doen, al die e-posse antwoord, nuwe gras in die hoenders se nesbokse sit en dalk ook ‘n bietjie in die tuin rond te krap.

Maar hier sit ek nou, besig om te skilder en ook hier op my blog te pos. Dinge te doen waarmee ek gemaklik en gelukkig voel. My pa het twee gesegdes gehad, “Moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie” en ook “Môre is nog ‘n dag.” Vandag voel ek so – môre is nog ‘n dag.

::

Bright-eyed en Bushy-tailed

Saterdae is seker altyd vir almal spesiaal, die begin van die naweek en mens sien vooruit na twee dae van rus of speel, hang af hoe jy voel. Maar wat jy ookal doen, ek wens jou ‘n heerlike dag toe en mag jou naweek vol inspirasie wees!
Idioom
bright-eyed and bushy-tailed – alertly eager; full of energy and enthusiasm: ‘Get a good night’s sleep so you’ll be bright-eyed and bushy-tailed in the morning.’
::

Die saadjie

Eendag lank, lank gelede was daar ‘n saadjie maar omdat dit ‘n klein enkel saadjie was, het niemand enige notisie geneem van die saadjie nie. Aangegryp deur ‘n gevoel van minderwaardigheid het die saadjie sy hele bestaan as onbelangrik beskou en heeltemal moed opgegee.

Maar eendag het die wind hom opgetel en genadeloos in ‘n oop veld onder die felle son geslinger. Die saadjie was verward, waarom sou die wind so iets aan hom gedoen het. Maar in plaas van antwoorde het hy net reënbuie en velle sonskyn ervaar in die oop veld.

Die dae het weke geword, die weke maande en die maande jare. Jare na die wind incident sien hy ‘n reisiger wat langs hom sit. “Dankie, tog vir dié. Ek het regtig die rus nodig,” hoor die saadjie die reisiger sê.

“Waarvan praat jy,?” vra die saadjie aan die reisiger wat hier teenaan hom sit. Hy het gedink die reisiger dryf die spot met hom. Gewis het hy opgemerk hoe baie mense hier teenaan hom kom sit – al hoe meer van hulle in die laaste paar jaar – maar niemand het nog so met die saadjie gepraat nie.

“Wie is dit?” vra die reisiger verskrik.

“Dit is ek. Die saadjie.”

“Die saadjie?” Die reisiger kyk na die reuse boom hier langs hom. “Jy maak seker ‘n grap? Jy is geen saadjie nie. Jy is ‘n boom. ‘n  Reus van ‘n boom!”

“Regtig?”

“Ja,! Hoekom dink jy kom die mense om hier langs jou te sit?”

“Nou hoekom kom hulle in elk geval hier langs my sit?” vra die saadjie.

“Om jou lieflike skaduwee te ervaar! Moet my nie vertel jy het nie geweet dat jy gegroei het tog die reuse boom die afgelope jare nie?”

‘n Paar oomblikke gaan verby voordat die volle betekenis van die reisiger se woorde insit en hy die volle implikasies daarvan besef.

Die saadjie, nou ‘n volgroeide boom, dink ‘n oomblik en glimlag vir die eerste keer in sy lewe. Die jare van volgehoue marteling onder die felle son en die reën het uiteindelik vir hom sin begin maak.

“Aaaah! Dit beteken ek is nie meer die klein verswakte saadjie nie. Ek was toe nie bestem om ongemerk dood te gaan en net weg te kwyn nie. Ek was bestem om mense te stroop van hul vermoeidheid en hulle te verfris en te laaf in my skaduwee. Wow! Dit is nou ‘n lewe wat die moeite werd is om te leef!”

Soms is ons groei in die gees so stil dat ons dit nie eens opmerk nie, al wat ons sien is die beproewinge en die swaarkry – totdat iemand eendag in ons skaduwee kom sit en dankie sê vir die lafenis wat ons hul kon bied. Dan eens besef ons dat die beproewinge en swaarkry ons laat groei het sodat osn vir ander ook tot lafenis kan wees.
– Anoniem