Antiekeware

1950’s “Ball & claw” vertoonkas met ‘n 1930’s “barley twist” potplanthouer langs dit

Gedurende die 1980’s het ek ‘n voorliefde vir alles oud en antiek ontwikkel. My droom was om in ‘n ou “vintage” huis met houtvloere en staalplafonne te woon en ons het amper ‘n ou 1890 huis in Krugersdorp-Noord gekoop, maar in daardie dae was dit my nie beskore nie. So ek het gedoen wat enige ander vrou met ‘n manie doen, die beste gemaak van ‘n slegte saak en my hele (moderne) huis gemeubileer met antiekeware en muurpapier en “vintage” linneware gebruik vir atmosfeer.

.

My voorliefde was eintlik silwer- en porseleinware, maar selfs ‘n 1950’s vertoonkas het nie my aandag ontduik nie. Vandag staan dit vol met silwer en porselein wat ek destyds aangeskaf het. Dit “pas” nou nie meer by my huidige dékor nie, wat diep uit Afrika is, maar ek is nog vreeslik lief daarvoor. Oor die jare het ek baie van my aankope verkoop maar ‘n paar gunstelinge het agter gebly.

.

.

Soos hierdie 1850’s Stinkhout Kaapse lessenaar wat nog in uitstekende toestand is. Dit het ‘brass’ handvatsels op die sewe laaie en die pragtigste antieke patina. Dit is steeds in daaglikse gebruik en is die plekkie waar ek ‘n bietjie kreatiwiteit beoefen; groete kaartjies maak en in my joernale skryf. Die lamp is ‘n 1920’s teleskopiese tafellamp met ‘n brons smid (blacksmith) figuur.

.

Die antiekhandel is wisselvallig. Soos met elke ander ding waarmee ons ons klee en ons huise meubileer, is daar onvoorspelbare modegrille wat onder meer pryse vir bepaalde antieke goedere beïnvloed.

.

Die redes waarom mense antieke ware koop verskil baie. Mense word byvoorbeeld deur nostalgie gedryf, omdat versamelaars van oudhede daarin ‘n manier vind om die verlede terug te roep, om onsterflikheid te koop. Of vir belegging of om iets na te laat vir die nageslag. Dan is daar snobwaarde ook. Die algemene bekendheid van sekere voorwerpe, soos Lalique en Galle-glasware uit die Art Nouveau en Art Deco-tyd, laat jou gaste dadelik verstaan jy is goed daaraan toe.

.

Hier is ‘n paar van my versamelings :

 1820 Walnut side table with fretted gallery and Ormolu insets
.
Lloyd Loom wasgoed mandjie van die 1920’s
.
‘n Koppie en piering vanuit die 1930’s (dink ek, geen identifiserende merke nie)
.
Silwer bottermes vanuit die 1800’s
.
“Chain mail mesh purse” vanaf die Victoriaanse era
.
.
‘n Versameling snyglas items (cutglass) uitgestal in my gastekamer
.
Snyglas versameling – ‘n sout en peper, mosterd en asyn stelletjie heel agter, regs is ‘n parfuumfles en heel voor ‘n bakkie vir lekkernye
.
Middel – ‘n Silwer troukoekmes – Sheffield 1921
.
Een van my vele “mismatched” koppies en pierings, gekoop sommer net oor dit mooi is
::

Dankbaar vir droomdae…

“Albasini-dam” waterverf op Bockingford 300gsm
.
Herinneringe kan niemand ooit van ’n mens wegvat nie. Uit die oorvloed herinneringe wat elke mens in sy hart ronddra, put ons daagliks baie plesier. Klein onthoudingetjies van geliefde persone wat nie meer by ons is nie is soos helderbont krale in ’n halssnoer en ons dra dié onsigbare halssnoere daagliks met ons saam.
 .
Ek is in Johannesburg gebore en was in Gr.I en II in Gauteng op skool. Toe het ons Pietersburg toe getrek waar ek St. I & II geslaag het. Ek moes seker toe so nege of tien jaar oud gewees het. Ons het in Pleinstraat gewoon – dis hier waar my liefde vir diere en die natuur begin het.
.
My pa het dikwels huistoe gekom met een of ander diertjie: ’n trapsuutjie, ’n meerkat, selfs slange, krimpvarkies, beseerde voëltjies, wilde katjies. Eenkeer het hy selfs ’n pasgebore witstinkmuishond wie se ma deur ’n kar doodgetrap is, aangedra huistoe. Dan het ek die arme diertjies opgepas en met my pa se hulp weer gesond gekry (meestal met die hulp van boererate) en weer in die natuur vrygelaat.
 .
Nie alle reddingspogings was altyd ewe geslaagd nie. Ek onthou toe ’n krimpvarkie wat ek vir drie weke liefdevol gedokter het (die honde het hom bygekom en sy hele neus en mondjie afgekou) tog nie oorleef het nie en my pa my tussen my snikke deur getroos het. Hy het gesê het dat die natuur wreed kan wees maar dat dit ’n feit is wat ons maar altyd moet onthou. Ons moet maar net ons bes doen. Daarna was daar nog altyd hartseer wanneer ons ’n diertjie verloor het, maar ook aanvaarding en berusting dat sulke dinge wel gebeur. Hy het my ook geleer dat mens nie onnodig met die natuur moet inmeng nie en, waar moontlik, dinge aan Moeder Natuur moet oorlaat.
.
Ek het baie saam met hom rondgery en dan het ons gaan visvang. My ma het vir ons ‘n heerlike mandjie vol lekkernye gepak – vars, tuisgebakte brood, koue aartappels met hulle skille aan, gekookte eiers, frikkadelle en ’n fles vol heerlike koffie. My pa het die babers wat ons gevang het skoongemaak en in groot ronde ’steaks’ gesny en op die kampvuur gebraai, ’n heerlikheid!
.
Albisinidam was een van ons gunstelingplekke. Ons het altyd baie seekoeie daar gesien en kon ek na stories luister van wat hierdie dier so spesiaal en gevaarlik maak soos die feit dat hulle ons waterweë skoon en oop hou en vloei verseker vir al die ander diere. My pa het altyd gesê ’n seekoei in ’n slegte bui is gevaarliker as ’n renoster! Ek onthou nog so goed die storie wat my pa ons vertel het oor hoe hy en sy maats gaan visvang het en een nag bo-op die bakkie se dak moes deurbring a.g.v. ’n onvergenoegde seekoei wat net niks van die kampvuur gehou het nie!
.
Langs dié waters het ek my eerste sketse begin doen terwyl ons gesit en visstokke dophou het – my pa het altyd blomme, blare en takke gepluk. Hy het ’n wonderlike kennis van plante en die veld gehad. Ek het al sy stories daaraan verbonde: waarvoor dit gebruik is deur die Pedi’s, vir watter siektes en ongesteldhede, met groot belanbgstelling aangehoor. Dan het ek nota’s gemaak en sketse gedoen.
.

Ons het ook insekte opgespoor: sprinkane, miere, skerpioene, motte en spinnekoppe. Dis toe dat ek geleer het om nie bang of grillerig te wees nie, want as jy iets moes vang moes dit VINNIG gebeur, anders is die oomblik verlore!

.

Twee Kremetart-peule wat oranje geverf is langs ‘n ou stomp en ‘n versameling speolklippe
 .

Op ons uitstappies het ons altyd halt geroep by kremetartbome en die kremetarte bymekaar gemaak om huistoe te vat. Ons het ook maroelas bymekaar gemaak en haastig in die kar gespring wanneer die bobbejane opdaag om hierdie lekkernye te kom geniet. Ons het vir ure in die kar gesit en lag oor hulle mannewales – die oorryp vrugte wat begin gis het, het ’n alkoholiese uitwerking op hulle gehad en dan het hulle rondgeslinger soos wafferse dronk mense!

 .
 My Ma het konfyt gekook van die maroelas. Ek het NIKS daarvan gehou nie! Maar ons MOES ’n paar teelepels vol eet, dis goed vir ons het my pa altyd gesê… en om die smaak van die kasterolie, wat ons elke Vrydagaand moes drink, weg te vat.
Ons het ’n kanariehok gehad in Pietersburg met die pragtigste kanaries – geles, pienkes, rooies (dié kleure is verkry deur iets wat by die drinkwater gevoeg word) en party met wilde haarstyle, vere wat penregop op die kop gestaan het of plat gedruk was soos ’n pannekoek! Een van die dinge wat my pa die meeste ontstel het was die miere! ROOImiere wat teen die hok opgeklim het en die pasgebore voëltjies aangeval en doodgemaak het. Die hok het op stelte gestaan. ’n Boer maak ’n plan – konfytblikke gevul met water onder elke poot en siedaar! Geen mier kon meer die voëltjies bykom nie!
.
Ons buite-yskas was ’n houtkas met dubbeldraad, gevul met steenkool en waardeur water permanent gevloei het. Dit het ons eiers, melk, botter en ander eetware perfek koel en vars gehou. Dié yskas het ek en my pa self gebou en dit het my geleer dat NIKS onmoontlik is nie – waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.
.
Ons het ook ’n groentetuintjie gehad en ons kon ure daar deurbring – slaaikoppe, kool, wortels, tamaties, groenboontjies, uie, beet en ertjies, selfs ’n paar blommetjies soos Kappertjies en Afrikaners. My pa het geglo dit hou die goggas weg. Hy het my geleer dat gifstowwe onnodig is en dat alle hulpmiddels in die natuur te vinde is. En my ma kon tóór met daardie groente! Tot vandag is groenboontjies met uie en aartappels een van my geliefkoosde disse.
.
As iemand my sou vra of ek my lewe sou wou oorhê, sal ek beslis ‘ja’ sê, veral daardie wonderlike dae in die Noord-Transvaal en die dankbaarheid wat ek in my hart voel vir die oorvloed herinneringe wat dit my besorg het.
::

Laat daar altyd blomme in jou lewe wees… dit laat jou beter voel

Veldblommetjies op ons plot

“If you have two pennies, spend one on bread and the other on flowers. The bread will sustain life. The flowers will give you a reason to live.”

 

Daar is altyd blomme vir diegene wat dit graag wil sien. Al sal dit party dae moeilik gaan, moet jy steeds die mooi en goeie dinge in jou lewe raaksien en waardeer.

 

Sodra ek net ‘n bietjie ontsteld voel, gryp ek gewoonlik na my skilderkwas, maar gister het ek die natuur nodig gehad. Ek het laat-middag my kamera gegryp en koers gekies veld in. Die reuk van die nat gras na die vorige aand se heerlike reën, die warm sonnetjie op my skouers in die koue en die geswiep van die gras teen my bene het my onmiddellik beter laat voel.

 

Oral was daar reëndruppels wat in die sonlig geskitter het en die mooiste veldblommetjies wat tussen die gras weg gekruip het. ‘n Paar patryse het vinnig in die paadjie voor my tussen die gras verdwyn asof hulle nooit eers daar was nie en die Diederiks Cuckoo se weemoedige geroep in die Bloekombos het my nader gelok, maar dié outjie is gans te geheimsinnig om ‘n foto toe te laat. Ek het lank gestaan en luister voor ek die paadjie weer huistoe gevolg het.

Ek het beter gevoel, want daar is blomme in my lewe…

 

::